Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale konferensie trek die wêreld se voorste gender-vakkundiges
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 09/08/2017

'n Aantal hoëprofielakademici van oor die hele wêreld wat in genderpolitiek spesialiseer, is hierdie week by die Universiteit Stellenbosch (US) om deel te neem aan 'n konferensie oor gender, politiek en die staat. Die Internasionale Vereniging vir Politieke Wetenskap se Navorsingskomitee 07 (“RC07") oor vroue en politiek in die globale Suide bied dié geleentheid van 8 tot 10 Augustus in samewerking met die US se SARChI-leerstoel in genderpolitiek aan. Dit vind by STIAS op Stellenbosch plaas, en val boonop saam met Vrouedag in Suid-Afrika. 

“Dit is die eerste keer wat die RC07-konferensie op Suid-Afrikaanse bodem aangebied word," sê prof Amanda Gouws, die RC07-voorsitter en 'n professor in politieke wetenskap aan die US wat in genderpolitiek spesialiseer.

Sy beklee ook die SARChI-leerstoel in genderpolitiek.

“Hierdie konferensie is baie belangrik, want dit bring vroue uit ontwikkelende lande, of wat in akademiese geledere as die globale Suide bekend is, byeen om te praat oor kwessies wat vir hulle belangrik is. By konferensies in die globale Noorde [ontwikkelde lande] word hulle stemme heel dikwels uitgedoof."

Die konferensie sal deelnemers van Afrika, Asië en Latyns-Amerika insluit.

Die drie hoofsprekers by die konferensie is prof Josephine Ahikire, 'n medeprofessor en die dekaan van die Skool vir Vroue- en Genderstudie aan Makerere-universiteit, Uganda; prof Gabeba Baderoon, 'n buitengewone professor in die US se Departement Engels en ook medeprofessor in vroue-, gender-, seksualiteit- en Afrikastudie in die Departement Vroue-, Gender- en Seksualiteitstudie aan die Pennsilvanië-staatsuniversiteit, Verenigde State, en prof Gayatri Chakravorty Spivak, 'n toonaangewende literêre teoretikus en feministiese kritikus van die Universiteit van Colombia.

“Prof Spivak, wat 'n gas van die US se Bestuurskool is, sal in samewerking met die Bestuurskool aan die RC07-konferensie deelneem, waar sy sal praat oor die kwynende hede aan die globale universiteit – 'n onderwerp wat sy sal inlei vir verdere bespreking deur prof Vasti Roodt van die US se Departement Filosofie en me Lovelyn Nwadeyi, 'n aktivis vir maatskaplike geregtigheid en ook 'n voormalige US-student. Dit is 'n geweldig belangrike onderwerp weens die invloed van neoliberale kapitalisme op universiteite wêreldwyd, wat veroorsaak dat universiteite soos korporasies bestuur word en waaronder die akademiese projek ly."

Volgens Gouws sal Ahikire se praatjie oor die verskuiwende gender van die staat in Afrika – 'n aanbieding oor die uitdagings, oorwinnings en omverwerpings van vroue se stryd om gendergelykheid in Afrika – ook van besondere belang wees vir afgevaardigdes, veral diegene van Suid-Afrika.

“Ons aanskou nou hoe nuwe vorme van outoritêre leierskap en korrupsie vroue se duur verworwe vooruitgang danksy jare lange aktivisme en voorspraak ongedaan maak. Dit is ook baie aktueel vir Suid-Afrika, wat 'n kwota van 50% vroue in die regering het, hoewel beleide van die staat klaaglik misluk om gendergelykheid in die land te bewerkstellig."

Die referate by die konferensie sal op vroueaktivisme en -bewegings konsentreer, met die klem op hedendaagse kwessies in die openbare domein. Dit sluit in gendergebaseerde geweld, waaronder verkragtingskultuur op kampusse en genderhoudings in staatsinstellings; vroue se rol in vredesprosesse wêreldwyd; die verteenwoordiging van vroue in godsdienstige, politieke en nasionale staatsinstellings; identiteitspolitiek; migrasie; staatsreaksies op skadelike kulturele praktyke wat vroue raak – iets waarmee baie Suid-Afrikaanse vroue hulle sal kan vereenselwig; vroue en beleidvorming, sowel as vrouebemagtiging.

Baderoon, 'n gevierde Suid-Afrikaanse digter, sal op Vrouedag, 9 Augustus, 'n hoofrede oor skryfwerk deur swart vroue in Suid-Afrika lewer. In die namiddag word 'n Pakistanse rolprent getiteld The Girl in the River in die Pulp-teater in die Neelsie vertoon om die aandag op die probleem van skadelike kulturele praktyke te vestig.