Prof Nuraan Davids, Voorsitter van die Departement Opvoedingsbeleidstudie, is een van die voorste navorsers aan die Universiteit Stelllenbosch (US). Sy is ʼn skrywer van formaat en het, onder meer, toekennings van die Nasionale Navorsingstigting en die US ontvang vir haar uitstekende navorsingsuitsette. As deel van die US se viering van Vrouemaand, het Korporatiewe Kommunikasie met Davids oor haar navorsing gesels.
Jy tel onder die Fakulteit Opvoedkunde en die US se top navorsers. Kan jy ons meer vertel van jou navorsingsgebied?
My primêre navorsingsgebied is die Filosofie van die Opvoedkunde. Dit fokus op wat onderwys beteken dit wil sê wat, hoe en hoekom ons onderrig. Ek stel veral belang in demokratiese burgerskapsopvoeding, Islamitiese onderwys, etiek in die onderwys en die ondersoek na opvoedkundige leierskap.
As opvoeder is ek veral geïnteresseerd in die invloed van ons spesifieke identiteite en wêreldbeskouings op diegene wat ons onderrig. Ek is ook gefassineerd deur die stilte wat sweef bo dit wat duidelik en bekend is.
Waar het jou belangstelling in hierdie spesifieke navorsingsveld begin?
Ek dink dit was ʼn sameloop van verskeie omstandighede in my lewe wat my tot die Filosofie van die Opvoeding gelei het. Ek wou probeer verstaan hoekom ons onderrig; hoe ons onderrig; en wat daardie opvoeding vir jouself en ander mag beteken.
Wat geniet jy die meeste van navorser-wees?
Ek geniet dit om te skryf. Ek hou daarvan om te sien hoe 'n idee of 'n probleem op papier lewe kry. Ek geniet ook feit dat ek nie weet waar my navorsing my kan neem nie. In baie opsigte het skryf my toevlug geword.
Waaraan skryf jy jou sukses toe?
Ek dink sukses en passie gaan hand aan hand. Ek is passievol oor my navorsing, my skryfwerk en my onderrig.
Wat hou jou aan die gang?
My geliefdes – ek kry ongelooflike ondersteuning van my familie en hegte vriende. My kinders is ook my kwaaiste kritici; hulle vra baie van my, en ek heg baie waarde hieraan. Ek word ook gedryf deur ʼn sterk begeerte om my beste te gee; om die beste persoon te wees wat ek moontlik kan wees, en die baie gawes wat ek ontvang het tot hul reg te laat kom. Daarom is dit vir my belangrik om ʼn verskil in ander se lewens te maak.
Watter dinge geniet jy as jy nie met navorsing of klasgee besig is nie?
Ek is bevrees ʼn boek is gewoonlik my toevlug – lees is vir my ʼn ontvlugting van baie dinge. Ek hou daarvan om lang ente te stap, na jazz-musiek te luister en lang, ontspanne gesprekke te hê
Het jy enige boodskap vir die volgende generasie vroue-navorsers?
Glo in die krag en vindingrykheid van jou eie gedagtes. Vroue bring bepaalde nuanses na navorsing wat nog ondersoek moet word. Die onus is op vroue om hul regmatige plek in navorsing en in die akademie op te neem.