Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aanlyn-assessering kan dowe leerders se wiskundepunte verbeter
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 03/08/2017

Aanlyn wiskunde-assessering kan help om dowe en hardhorende leerders in Suid-Afrika se wiskundepunte te verbeter.

Dít is een van die belangrikste bevindinge van 'n nuwe studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).
“Aanlyn wiskunde-assessering kan dowe en hardhorende leerders help om moeilike wiskundige begrippe te verstaan en hulle gelyke geleenthede bied om goed te vaar in formele wiskunde-assesserings," sê dr Nolan Damon, 'n wiskunde-onderwyser van Worcester en ook ʼn kenner van gemengde leer. Hy het onlangs sy doktorsgraad in Kurrikulumstudie aan die US verwerf.

Damon het gekyk na die gebruik van aanlyn wiskunde-assessering as ʼn alternatief vir geskrewe wiskunde-assesserings wat nie dowe en hardhorende leerders 'n regverdige kans bied om te wys wat hulle geleer het.

“Dowe en hardhorende leerders vaar swak in pen- en papiergebaseerde assesserings omdat hulle sukkel om geskrewe tekste te lees en te verstaan en wiskundevrae wat in Afrikaans of Engels gestel word te interpreteer omdat nie een van hierdie tale hul huistaal is nie," sê Damon.

Hy sê hierdie leerders kommunikeer deur middel van gebaretaal, en sukkel weens die verskil tussen die struktuur en grammatika van Afrikaans/Engels en gebaretaal, die afwesigheid van 'n wiskunde-woordeskat in gebaretaal, en hul beperkte taalvaardighede. 

 

​(Selfoongebruikers, klik hier)

Leerders se begrip van wiskundige funksies

As deel van sy navorsing het Damon ʼn aanlyn wiskunde-assessering vir Graad 8-leerders by 'n skool vir dowes en hardhorendes in die Wes-Kaap ontwerp. Benewens Damon en die leerders, het 'n gebaretaal-tolk aan die studie deelgeneem.

Damon het 'n toetsmodule in die gratis oopbron aanlynleer-platvorm Moodle, asook twee wiskundige sagtewarekomponente, gebruik om die leerders se begrip van wiskundige funksies wat in die daaglikse lewe belangrik is te toets. Toetse in Moodle kan onder meer gebruik word vir eksamenvoorbereiding, deurlopende assessering, en om leerders se begrip van inhoudskennis te meet.

Damon sê sy ervaring as wiskunde-onderwyser vir dowes en hardhorende leerders het gewys dat hulle sukkel om wiskundige begrippe, veral die funksie-konsep, te verstaan.

“Dit is belangrik om hul begrip van wiskundige funksie te toets omdat dowe leerders byvoorbeeld nie kan hoor of verstaan dat vrugte, vleis of groente per kilogram verkoop word nie. Hulle weet wat die teken daarvoor is, maar sukkel om byvoorbeeld te verstaan dat as ek R4,00 vir twee kilogram appels betaal, die funksionele verhouding op meer sakkies appels van toepassing gemaak kan word."

Die Moodle-toets het onder andere probeer vasstel of leerders in staat was om met behulp van vloeidiagramme, tabelle, formules en vergelykings die reëls vir patrone en funksionele verhoudings te bepaal. Die toets was in lyn met die huidige Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring vir Graad 7-9.

Terwyl die leerders die toets voltooi het, het Damon hulle waargeneem om hul interaksie met en ervaring van die aanlyn-assessering te dokumenteer. Die gebaretaal-tolk het ook onderhoude met die leerders gevoer oor die moontlike voor- en nadele van die aanlyn-assessering. Damon het die leerders se terugvoer gebruik om aanpassings aan die aanlyn-assessering te maak.

“Nie net was dit vir die leerders makliker om die aanlyntoetse te doen nie, maar die insluiting van 'n woordelys by die toetse het hulle ook onmiddellike toegang tot moeilike woorde en frases gegee."

Damon wys daarop dat hoewel die leerders aanvanklik probleme met die aanlyn-assessering ondervind het, hul punte verbeter het nadat enkele aanpassings gemaak is.

“Al die leerders het die toets geslaag met punte bo 60% en drie leerders het 100% gekry. Aangesien 'n verbetering in toetspunte direk gekoppel is aan 'n toename in leerders se begrip, kan ʼn mens argumenteer dat hul kennis oor die funksie-konsep verbeter het danksy wysigings aan die aanlyn wiskunde-assessering."

Multimedia kan leerproses vergemaklik

Damon sê elke vraag in die aanlyn wiskunde-assessering het 'n ikoon ingesluit waarop leerders kon klik vir 'n video wat hulle gehelp het om ʼn beter idee te kry van die wiskunde-konsep wat oorgedra moes word en hulle deur die vrae begelei het. Hy voeg by dat hierdie 'hulpmiddel' uiters nuttig was, veral weens die beperkte gebaretaal-woordeskat.

“Die studie het gewys dat dit sinvol is om multimedia soos video's, beelde, simulasies, interaktiewe inhoud en ander grafika deel te maak van die aanlyn-assessering omdat dowe en hardhorende leerders van visuele beelde vir leer afhanklik is. Hierdie multimedia kan die kognitiewe lading wat met die interpretasie van tekste gepaardgaan verminder en ook die leerproses vir dié leerders vergemaklik."

“Dit is belangrik omdat daar geen gebaretaal vir wiskundige konsepte bestaan nie. Gevolglik is dit moeilik om hierdie konsepte deur middel van gebaretaal te vertaal sonder om hul essensie te verloor."

Damon sê aanlyn wiskunde-assessering stel leerders in staat om slimfone, tablette en skootrekenaars te gebruik om die assessering te doen.

“Gebaretaal kan maklik by aanlyn wiskunde-assessering geïnkorporeer word, wat beteken dat hierdie leerders van assessering in hul huistaal voorsien sal word."

“Hierdie aanlyn wiskunde-assessering kan leerders help om moeilike konsepte te verstaan en kan hul studies soveel beter maak as hulle toegang het tot vakinhoud in hul eie taal, naamlik gebaretaal."

“Dit stel die onderwyser in staat om aanlyn-assesserings te skep, en die rekenaar lê die leerders se antwoorde vas, merk dit en gee onmiddellike terugvoer aan die leerders."

Damon voeg by dat hierdie tipe assessering ook wiskunde-onderwysers kan help om ʼn beter begrip te verky van die kognitiewe prosesse van dowes en hardhorende leerders terwyl hulle wiskunde doen.

Hy meen vir aanlyn wiskunde-assessering om suksesvol te wees moet onderwysers en dowe leerders opleiding ontvang in die gebruik van Moodle, en sagtewarekomponente soos GeoGebra en WIRIS.

Damon sê die beginsels van aanlyn wiskunde-assessering kan ook in Tale, Wetenskap en enige ander vak toegepas word, en universiteite kan ook by sy navorsing baat.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Nolan Damon

Nuwe Hoop Sentrum vir Gehoorgestremdes

Tel: 0233474372

E-pos: damon@telkomsa.net

             OF

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za