Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voedselsekuriteit Inisiatief verwelkom eerste nadoktorale genoot
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 31/07/2017

Die Voedselsekuriteit Inisiatief van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe het sy eerste nadoktorale navorser verwelkom. Dr Sandra Boatamaa sal navorsing doen oor kwessies wat verband hou met die bestuur van voedselstelsels in Suidelike Afrika.

Dis 'n uitdaging waarna dr Boatemaa uitsien. Sy was voorheen verbonde aan die Universiteit van Ghana se Departement Voedingkunde en 'n nagraadse assistent in die instelling se Streeksinstituut vir Bevolkingstudies.

Dr Boatemaa het vroeër vanjaar ʼn PhD in Bevolkingstudies aan die Universiteit van Ghana behaal. Haar tesis het gefokus op die oortuigings en gewoontes rondom voedsel wat lede van ʼn stedelike gemeenskap in Accra in Ghana huldig, en hoe dit verband hou met hul kanse om nie-oordraagbare siektes op te doen en te bestuur. In 2012 het sy haar MPhil in Bevolkingstudies aan die Universiteit van Ghana behaal, met ʼn studie oor dieselfde gemeenskap se opvattings en praktyke rondom kos.

Deur haar werksaamhede as nadoktorale genoot sal sy voortbou op ʼn projek oor Voedselstelselbestuur in Suidelike Afrika wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) befonds word. Dit word gefasiliteer deur die Southern Africa Food Lab en die een van die Universiteit Stellenbosch se vlagskipprojekte, die Sentrum vir Komplekse Sisteme in Oorgang (CST).  Die Universiteit Stellenbosch is ʼn vennoot in hierdie inisiatief wat verskeie belanghebbers betrek. Dit poog om die innoverende institusionele maatreëls wat komplekse voedselstelsels beheer, te verstaan.

“Ek wil ondersoek instel na hoe 'n volhoubare benadering boere se gesondheid en lewensbestaan raak," sê dr Boatemaa. Sy sal put uit ondervindings en gevallestudies van regoor die kontinent. Haar studies word gedoen in oorleg met dr Laura Pereira van die CST en dr Scott Drimie van die South Africa Food Lab.

Sy bou voort op ʼn bestaande ondersoek wat die bestuursmeganismes in oënskou neem wat nodig is om ʼn volhoubare voedselsisteem in Suider-Afrika te ondersteun en sodoende lande soos Zambië, Zimbabwe, Angola, Mosambiek en Suid-Afrika te kan verbind. Dit versterk bestaande verhoudings tussen die universiteite van Kaapstad, Oxford, Wageningen en Newcastle en andere in suidelike Afrika.

“Dr Boatemaa se aanstelling as nadoktorale navorser is van groot waarde vir die werk oor voedselstelsels wat by die Universiteit Stellenbosch en elders gedoen word," verduidelik dr Scott Drimie, direkteur van die South African Food Lab, 'n projek waarby beide die Voedselsekuriteit Inisiatief en die CST betrokke is. “Een van haar prioriteite sal wees om die praktyke en modaliteit van so ʼn navorsingsprojek te oorweeg wat deelnemend en interdissiplinêr van aard sal wees."

Sy is in die US se Fakulteit AgriWetenskappe en die CST gebaseer. Haar werk egter ook in samewerking met die Universiteit van die Wes-Kaap se NNS Sentrum van Uitnemendheid oor Voedselsekuriteit in Suid-Afrika.

“Hierdie belangrike vennootskap tussen verskillende instellings maak dit moontlik vir verskillende gedagterigtings en vakgebiede om saam te kom binne die Universiteit Stellenbosch en elders," sê dr Drimie. “Ons glo dit is van die grootste belang om beter te kan bepaal hoe om verandering in ons voedselstelsels teweeg te bring."

Foto: Dr Sandra Boatemaa. 

Fotograaf: Engela Duvenage