Sy lesings is “pittig", “energiek" en “dinamies", het een van die top-eerstejaarstudente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) gesê toe sy prof Hans Strijdom van die Afdeling Geneeskundige Fisiologie as haar inspirerendste lektor vir 2016 genomineer het.
Dis die agtste keer agtereenvolgens dat Strijdom by die Eerstejaar-prestasietoekennings vereer is. Dr Alwyn Louw van die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys (SGBO) en dr Pieter Neethling van die Departement
Fisika, Fakulteit Natuurwetenskappeis ook deur toppresterende eerstejaarstudente genomineer.
“Met hierdie toekennings word nie net erkenning aan die toppresterende eerstejaarstudente in elke fakulteit gegee nie, maar ook aan lektore wat 'n positiewe invloed op die akademiese ervaring van eerstejaarstudente gehad het," het me Jean Lee Farmer, Onderwysraadgewer van die SGBO en die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL), gesê.
Die drie toppresterende studente aan die FGGW in 2016 was Theresa Brummer (MB,ChB), wat Strijdom genomineer het, Lebohang Likole (MB,ChB), wat Louw genomineer het, en Gabby Rautenbach (BArbeidsterapie), wat Neethling genomineer het.
In sy nominasie het Likole Louw geprys vir sy besorgdheid oor sy studente en hoe hy na hulle omsien. “Gedurende ons hele eerstejaar het u dikwels kom kyk hoe dit met ons gaan, aan ons bekommernisse aandag gegee en persoonlike kontaksessies gereël om te kyk of ons byhou. Dankie dat u my oorgang na die universiteit laat vlot het," het Likole gesê.
Rautenbach het Neethling vir sy goed gestruktureerde, interaktiewe lesings bedank. “Die lesse wat ek by u geleer het, het nie net my eerste studiejaar beïnvloed nie, maar ek sal dit vir die res van my studiejare en my lewe onthou," het sy gesê.
Hierdie geleentheid, vroeër bekend as die Rektor se Dinee vir Toppresterende Eerstejaarstudente en later as die Prestige-dinee vir Toppresterende Eerstejaarstudente, is in 2009 deur Prof Susan van Schalkwyk geïnisieer toe sy Adjunkdirekteur van die SLO was. Onder haar vlerk het dit een van die prestigerykste nominasiegeleenthede aan die US geword.
Onderskrif: Dr Aalwyn Louw, me Theresa Brummer, prof Hans Strijdom, mnr Lebohang Likole, me Farah Fredericks (Adjunkregistrateur van die FGGW), me Gabby Rautenbach, me Jean Lee Farmer (Onderwysraadgewer van die SGBO en die SOL), dr Therese Fish (Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak), en dr Pieter Neethling.