Etiese leierskap kan organisasies help om meer effektief te funksioneer en onetiese gedrag in die werksplek aan bande te lê.
Só het prof Amos Engelbrecht van die Departement Bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch op Donderdag (27 Julie 2017) in sy intreerede gesê.
Engelbrecht het die belangrikheid van etiese leierskap vir die bou van effektiewe en etiese organisasies beklemtoon en gesê “navorsing het gewys dat uitvoerende hoofde wat eties optree deur middel van 'n etiese kultuur organisasie se effektiwiteit deur middel van 'n etiese kultuur positief kan beïnvloed as 'n sterk etiese program in die organisasie het."
“As ʼn organisasie sterk kulturele morele standaarde en waardes het en hierdie waardes in sy strategiese besluite en maatskaplike verantwoordelikheidsaktiwiteite tot uiting kom, kan dit 'n goeie etiese reputasie kry, wat op sy beurt die vertroue van sakevennote, kliënte en ander belanghebbendes versterk."
Engelbrecht het daarop gewys dat leiers vir die ontwikkeling en kweek van 'n etiese kultuur in hul organisasies verantwoordelik is.
“Leiers van organisasies behoort volle verantwoordelikheid te aanvaar vir die kweek van 'n etiese kultuur deur eties op te tree. Die ontwikkeling van 'n etiese kultuur help om die probleem van toenemende onetiese praktyke in organisasies op te los."
“Dit is belangrik dat leiers in organisasies die uitdaging aanvaar om 'n etiese kultuur te ontwikkel
deur as geloofwaardige, etiese rolmodelle op te tree en hulle tot sake-etiek in hul besluitneming en bestuurstelsels en -prosedures te verbind."
Engelbrecht het bygevoeg dat topbestuurders die morele riglyne en beginsels moet toepas en leiers op alle vlakke in die organisasie moet inspireer om meer effektiewe etiese leiers te word.
Hy het die rol wat navorsing in die bevordering van etiese leierskap in organisasies kan speel beklemtoon. Die uitdaging vir navorsers, veral dié in die bestuurswetenskappe, is om wetenskaplike en professionele opleidingsprogramme vir etiese leierskap in organisasies te ontwikkel, het Engelbrecht gesê.
Hy het bygevoeg dat hulle ook moet fokus op kruis-dissiplinêre en kruis-kulturele benaderings om 'n nuwe maniere waarop etiese leierskap gemeet kan word te ontwikkel en evalueringsnavorsing te doen om vas te stel of etiese opleidingsprogramme werklik die etiese gedrag van werknemers verbeter.
- Foto 1: Pixabay
- Foto 2: Profs Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Amos Engelbrecht, en Johan Malan, Waarnemende Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, by die intreerede.
- Fotograaf: Justin Alberts