Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Unieke geleentheid vir toegewyde gemeenskapslid
Outeur: Kim Cloete
Gepubliseer: 24/07/2017

​Vir Tembaletu Nyandeni van Khayelitsha was ʼn reis na Washington DC vir die jaarvergadering van die HIV Prevention Trials Network (HPTN) ʼn droom wat waar geword het.

Dit was die eerste keer dat dié jong man, wat by ʼn wêreldwye studie oor die voorkoming van MIV-oordrag betrokke is, buite die landsgrense was. Dit was ook sy eerste ervaring van ʼn wêreldkonferensie.

“Ek was baie opgewonde. Dit was ʼn baie groot ding vir my en ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het soveel geleer en het dit so geniet om daar te wees," sê Nyandeni. Hy is die ondervoorsitter van een van die gemeenskapsadviesrade vir die HPTN 071 (PopART)-studie wat deur die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTS) aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, by die Universiteit Stellenbosch, onderneem word.  

Hierdie rade vorm 'n deurslaggewende skakel tussen gemeenskappe en navorsers in hierdie studie, wat tans in 21 gemeenskappe in Suid-Afrika en Zambië onderneem word.    

Die onlangse jaarvergadering van die HPTN het navorsers van regoor die wêreld byeengebring wat betrokke is by sy kliniese proewe om intervensies te ontwikkel om MIV-oordrag te voorkom.

Nyandeni het die meeste van die geleentheid gemaak deur aan werk- en konferensiesessies – en selfs straatteater – deel te neem. Volgens hom was die hoogtepunt om mense van verskillende kulture en agtergronde te ontmoet.

Die kroon is gespan toe die toekenning vir die beste gemeenskapsbetrokkenheid by die 2017 HPTN Network Awards aan die DTTS en ZAMBART CRS van Lusaka oorhandig is. Hierdie toekennings, wat by die jaarvergadering aangekondig is, gee erkenning aan toppresteerders in gemeenskapsbetrokkenheid, die werwing en behoud van studiedeelnemers en laboratoriumprestasie. 

Nyandeni was daar om die span se oorwinning te vier en die prys huis toe te bring.

Nozizwe Makola, leier van die gemeenskapsbetrokkenheidspan vir die HPTN 071 (PopART)-proefneming in Suid-Afrika, is daartoe verbind om diep en wyd te reik in die gemeenskappe waarin hulle werk en was verheug oor die toekenning.

“Ek het trane van vreugde en vervulling gestort toe ons naam aangekondig is. Dit was danksy goeie werk deur toegewyde uitreikspanne en die gemeenskapsadviesrade."

Die entoesiastiese en hardwerkende gemeenskapsbetrokkenheidspan het ook in 2016 ʼn artikel gepubliseer ná ʼn skryf-werksessie wat in 2015 in Noord-Carolina deur die HPTN vir gemeenskapsbetrokkenheidsgroepe gefasiliteer is.

Nyandeni is gekies om die vyf dag lange konferensie by te woon danksy sy vrywillige werk as ʼn lid van ʼn gemeenskapsadviesraad en sy toewyding tot die studie.

Gemeenskapsadviesrade is in al 21 gemeenskappe wat by die HPTN 071 (PopART)-studie betrokke is, tot stand gebring.

“Ek beskou myself as die sleutel tot die gemeenskap. Ek verskaf terugvoering oor kwessies en bekommernisse aan die gemeenskap én navorsers. Ek kan ook dit wat die gemeenskap van die studie dink, stap vir stap aan die navorsers oordra," sê Nyandeni. 

Volgens hom het sy ervaring by die HPTN-jaarvergadering sy selfvertroue 'n groot hupstoot gegee, hom aangespoor om sy doelwitte na te streef en verder te studeer.  

Hy was beïndruk met die “wonderlike kos en vriendelikheid van die Amerikaners", asook die vlug na die VSA. Die blitsige ondergrondse spoorwegstelsel in Washington DC het hom veral geboei. “My pa was ʼn mynwerker. Ek het dieselfde gevoel op die ondergrondse treine as in die myne gekry."

Makola het gesê Nyandeni kon sy ervarings in die VSA met ander lede van gemeenskapsadviesrade deel en sodoende aan hulle ʼn beter begrip van die konteks van die proewe bied.

“Ons het deur die gemeenskapsadviesrade vertroue geskep en verhoudings met belanghebbers opgebou en hulle het sedert die begin van PopART as ʼn skakel tussen die navorsers en die gemeenskappe gedien. Sonder gemeenskapsbetrokkenheid sal ʼn studie van hierdie omvang moeilik van stapel gestuur kan word," het Makola gesê.

Die gemeenskapsbetrokkenheidspan werk heel jaar lank om gemeenskappe se belangstelling in en betrokkenheid by die studie te behou. Gemeenskapsmobiliseerders gaan van straat tot straat en van deur tot deur in die gemeenskappe waarin hulle werksaam is om pamflette uit te deel, met mense te praat en hulle aan te moedig om vir MIV te toets. Hulle bied ook geleenthede aan, met nuwe nuus oor die studie, sang, danse en prysuitdelings, asook MIV-toetse.

“PopART is ʼn groot studie wat in verskillende gebiede met verskillende uitdagings uitgevoer word. Ons het geleer om nooit die rol van gemeenskapsbetrokkenheid gedurende kliniese proewe te onderskat nie," het Makola gesê.

HPTN 071 (PopART) is ʼn navorsingstudie wat die impak van ʼn pakket antiretrovirale terapie-intervensies op die voorkoms van MIV op ʼn gemeenskapsvlak sal bepaal.

Dit sluit MIV-berading en -toetsing by mense se huise in, asook om MIV-besmette kliënte by klinieke te kry sodat hulle behandeling kan ontvang.

 

Onderskrif: Nozizwe Makola en Tembaletu Nyandeni.