Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-rasieleiers fokus nou op 2018 ná warrelwindbegin
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 11/07/2017

Ná 'n warrelwindbegin en net vier maande ná die groep gevestig is, het Maties se rasieleiers (cheerleaders) die afgelope naweek tweede geëindig in die kategorie vir tersiêre vrouespanne by SAMCA se nasionale kompetisie in Durban.

Die groep, wat bestaan uit 15 Matiestudente, is vanjaar onder leiding van Jessica Zoo, stigter van Cheerobics®, begin. Cheerobics is 'n fiksheidsklas wat as basis vir rasieleiding dien.

“Ek is verheug," sê Jessica. “'n Tweede plek teen spanne wat al vir 'n paar jaar gevestig is, is uitsonderlik."

Sy is egter nie verbaas oor die uitslag nie.

“Hierdie Stellenbosch-meisies het meer dryfkrag en toewyding as enige ander span wat ek vantevore afgerig het."

Behalwe hul deelname aan kompetisies het die groep ook by Varsitybeker-wedstryde opgetree.

“Ons jaar het baie intens afgeskop want ons moes 'n jaar se afrigting in vier maande inpas: oriëntering, choreografie, Varsitybeker-optredes en drie streekskompetisies."

Jessica glo 'n plaaslike rasiegroep wat uit studente en ondersteuners bestaan, het groot waarde.

“Dit verleen aan diegene met dans-, gimnastiek- en fiksheidsvaardighede 'n uitstekende manier om dit te gebruik. Dit is fantasties om só deel van Stellenbosch se sporterfenis te word. Plus, wat 'n eer om ambassadeurs van die Universiteit Stellenbosch te wees."

Sy self het eers aan universiteit by rasieleiding betrokke geraak.

“Ek het 'n 'ernstige rasiegogga' opgedoen. Ek is sedert 2004 'n afrigter en het 'n bietjie obsessief geraak dat mense hul innerlike rasieleier vind en, as hulle dit eers gedoen het, om hul atletiese potensiaal vir hierdie fantastiese sport te maksimaliseer.

“Rasieleiding in Suid-Afrika ontwikkel stadig en het nog 'n lang pad om te gaan vir die standaard om deurgaans te verbeter. Die doelwitte vir Maties Rasieleiding is om 'n model vir 'n vrouerasieleidingspan in Suid-Afrika te ontwikkel, om ten toon te stel hoe kantlyn-rasieleiding (ondersteuning by wedstryde) en ondersteuningsdanse op professionele vlak kan lyk en om 'n span afrigters bymekaar te kry wat rasieleiding dan in die plaaslike gemeenskap kan ontwikkel."

Jessica bied ook Cheerobics-klasse by Maties Gimnasium aan wat onder meer as opwarming sowel as kondisionering vir die span dien. Dit gee ook mense wat nie betrokke wil raak of in die rasieleidingspan wil wees nie, die geleentheid om ook aktiewe pompompret te geniet.

Maties Rasieleiding sal op 23 Julie proewe hou.

“Enigeen wat wil probeer om vir ons Varsitybeker-dansspan of die mededingende rasieleidingspan vir 2018 in aanmerking te kom, moet aansluit vir ons buiteseisoenvoorbereiding van Augustus tot November."

Gaan na die Facebook-bladsy vir meer inligting en om vir proewe te registreer: https://www.facebook.com/matiescheer/