Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geneeskundiges vir more en die dag daarna
Outeur: Jeanne van der Merwe
Gepubliseer: 07/07/2017

​Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel bevind hom midde-in veelvuldige veranderinge.

Toegang tot mediese sorg moet uitgebrei word in 'n stelsel wat histories stedelike bo landelike en welvarende bo armer gemeenskappe bevoordeel het. Tegelyk moet transformasie plaasvind van 'n hospital en spesialisgesentreerde benadering na 'n pasiëntgesentreerde een waarin primêre en gemeenskapsgebaseerde gesondheidsorg die hoeksteen van omvattende hoëgehaltegesondheidsorg vorm.

“In die 1990's is basies net gepraat oor infrastruktuur en basiese hulpbronne," verduidelik prof Bob Mash, Hoof van die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). “Toe ons in huisartskunde van pasiëntgesentreerdheid begin praat het, het mense letterlik vir ons gelag. Hulle het gesê dis sentimentele onsin.

“Lees jy vandag die Departement van Gesondheid se Visie 2030 (die strategiedokument), sal jy sien die pasiënt is aan die kern van die beleid. Dit is 'n beduidende ommeswaai wat van ons vereis om die gehalte van ons werk te verbeter, oor die pasiënt se ervaring na te dink en te luister na wat pasiënte nodig het en wil hê. Dit vat egter lank vir hierdie denkwyse om na plaaslike klinieke deur te syfer."

Die gesondheidstelsel moet ook 'n bevolking dien waarin probleme tipies van ontwikkelende lande (TB, MIV, moeder- en babasterftes en -siektes, asook interpersoonlike geweld en beserings), hand aan hand gaan met dié meer tipies van ontwikkelde lande (nie-oordraagbare siektes soos diabetes, kankers en ander ouderdomen leefstylverwante siektes).

Om hierdie siektelas die hoof te te bied in omgewings wat dikwels aan hulpbronne tekort skiet, vereis geneeskundige vaardighede wat nie tradisioneel in Suid-Afrikaanse gesondheidsorgopleiding as belangrik geag is nie. Pleks van om 'n basiese mediese kwalifikasie bloot as 'n poort na spesialisering te beskou, moet mediese graduandi ook bekwame algemene praktisyns word sodat hulle leiding aan kollegas in multidissiplinêre distriksgesondheidspanne kan gee.

'n Bykomende uitdaging is die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV ). Dit is die hoeksteen van die plan van Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, om weghol-prysinflasie in die private gesondheidsektor te stuit, toegang, gehalte en effektiwiteit in die openbare gesondheidsektor te verbeter, asook 'n kerngroep gehaltegesondheidsdienste aan alle Suid-Afrikaners te bied, ongeag hul inkomste of waar hulle woon.

Hierdie sal hoogs waarskynlik 'n lang proses wees met aansienlike uitdagings vir openbare én private gesondheidsorg, sê Mash. Die FGGW se Sentrum vir Navorsing oor Gesondheidstelsels en -dienste waarsku in sy voorlegging aan die Departement van Gesondheid oor die NGV -witskrif dat beduidende uitdagings rakende wetgewing, menslike hulpbronne, logistiek, opleiding, nakoming en bestuur voorlê.

Voornemende dokters, lede van verwante gesondheidsberoepe en gesondheidsorgbestuurders moet dus toegerus word om hoëgehalte-gesondheidsorg onder onsekere, vloeibare omstandighede te verskaf.

Uitnemendheid, oral

Oor die volgende 10 tot 15 jaar is die land veronderstel om na 'n getransformeerde gesondheidstelsel met primêre gesondheidsorg as sy hooffokus te beweeg," sê Mash. “Ons beweeg weg van die Afrika-tradisie wat primêre gesondheidsorg as iets vir swak opgeleide gesondheidswerkers in laekostebuiteposte vir arm plattelanders beskou, na waar primêre gesondheidsorg die hoeksteen van die gesondheidsorgstelsel is.

“Ons weet uit navorsing elders, maar spesifiek in die VSA, dat goeie gesondheidsaanwysers met die beskikbaarheid van algemene praktisyns verband hou. Daar is dus bewyse dat sterk primêre gesondheidsorg met die steun van goed opgeleide algemene praktisyns inderdaad werk. Die halfhartige, afgewaterde tipe primêre gesondheidsorg wat ons in baie lande sien, werk nie."

Tans word 80% van Suid-Afrikaners wat primêre gesondheidsorgklinieke besoek, deur 'n verpleegkundige gesien. Navorsing het bewys dat geestesgesondheids- en psigososiale problem nie in dié stelsel gediagnoseer word nie.

“Veel groter insette van dokters is in die primêre gesondheidstelsel nodig om sorg van 'n hoë gehalte te bied. Daar is steeds 'n behoefte aan verpleegkundiges, maar die span moet versterk word.

“Myns insiens moet die dokter van die toekoms baie meer bewustelik as 'n basiese algemene praktisyn opgelei word. Ons moet 'n manier vind om meer mense aan te moedig om hulself ná hul eindeksamen as huisartse te bekwaam ten einde die transformasie van die gesondheidstelsel na sterk primêre gesondheidsorg te verwesenlik. Dít sal 'n verskil aan die gesondheid van alle Suid- Afrikaners maak."

Mash benadruk die belangrikheid van spanwerk in hierdie konteks, waar dokters saam met verpleegkundiges, sielkundiges, fisioterapeute, arbeidsterapeute en ander gesondheidswerkers werk.

“Primêre sorg word as 'n komplekse veld erken, want iemand kom na jou toe as 'n volledige persoon met probleme wat nog nie gedefinieer is nie. Hul probleme bestaan dikwels uit 'n mengsel van mediese, sielkundige en maatskaplike kwessies. Om sin daarvan te maak vereis 'n spesifieke stel vaardighede."

Hierdie vereistes het implikasies vir opleiding op beide voorgraadse en nagraadse vlak, waarvan talle die afgelope twee dekades deur die FGGW vooruitgeloop is. Mash se afdeling was die eerste wat mediese student aan primêre gesondheidsorg deur 'n twee week lange blootstelling aan klinieke bekend gestel het.

“In 1997 het ons begin om mediese studente na Khayelitsha te neem, tot groot ontsteltenis van hul ouers. Oor die jare het ons die program getransformeer tot die huidige 13 kliniese rotasies in huisartskunde, waarin mediese studente aan primêre gesondheidsorg en huisartskunde blootgestel word. Ons het ook die Landelike Kliniese Skool (in Worcester). Ons doen moeite om studente aan landelike én stedelike behoeftes bloot te stel, en gemeenskapsgebaseerde onderrig het 'n taamlik sentrale deel van die kurrikulum geword."

Mash meen basiese gesondheidsorgopleiding moet selfs verder ontwikkel, dermate dat algemene praktisynskap die uitgangspunt van die voorgraadse leerplan vorm.

Gerespekteerde loopbaan

Mash meen voorts 'n doelgerigte poging is nodig om primêre gesondheidsorg en huisartskunde as 'n haalbare en gerespekteerde loopbaan te vestig.

“Die persepsie het nog altyd bestaan dat as jy 'n regte dokter wil wees, jy 'n hospitaalspesialis soos 'n chirurg moet word, hoofsaaklik omdat dit tradisioneel die enigste blootstelling was wat voorgraadse mediese studente gekry het. Hoe sal jy jou kan indink dat enigiets anders die moeite werd is as jy net aan spesialiste blootgestel word?

“Boonop was daar tot onlangs nie regtig 'n baie goed-gedefinieerde loopbaanweg vir algemene praktisyns in Suid-Afrika nie. Deesdae word 'n huisarts dieselfde betaal as ander spesialiste, dus raak dit 'n aantreklike opsie in die openbare sektor. In die private sektor behoort huisartse wetlik ietwat beter betaal te word, maar dit is nog nie regtig in werking gestel nie.

“Daar heers groot belangstelling in huisartskunde in die private sektor, want finansierders wil weet of algemene praktisyns kan doen wat van hulle verwag word. As iemand vier jaar se spesialis-opleiding in huisartskunde en primêre sorg suksesvol voltooi het, weet jy hulle is bekwaam om sekere dinge goed te doen. Beide die spesialiseringsdiploma (vier jaar) én die primêre gesondheidsorgdiploma (twee jaar) maak dit vir die finansierder moontlik om te sê: Ons gee aan jou voorkeur-verskafferstatus, want ons vertrou jy kan doen wat ons van jou verwag."

Nog 'n tersaaklike uitdaging is om bestaande dokters toe te rus met die vaardighede wat nodig is om te kan voldoen aan die veranderende behoeftes van die Suid- Afrikaanse gesondheidsorgstelsel.

“Daar is tans 18 000 dokters op die register wat nie spesialiste is nie, maar bykans geeneen van hulle het enige nagraadse opleiding as algemene praktisyns nie. Húlle gaan die dokters in die stelsel wees. Daar is minder as 1 000 huisartse op die register, wat beteken ons sal daardie 18 000 dokters moet toerus met die vaardighede wat hulle nodig het om 'n primêre sorgstelsel te ondersteun.

“Ons (by die FGGW) was aan die voorpunt van 'n nasionale proses om 'n diploma vir primêresorg-dokters te ontwerp, wat uiteindelik by elke universiteit in die land aangebied behoort te word. In 2016 het ons dit by vier universiteite geïnisieer, naamlik Kaapstad, Stellenbosch, Pretoria en KwaZulu-Natal."

Toekomsbestande leiers

Beide Mash en prof Lilian Dudley, Hoof van die Afdeling Gemeenskapsgesondheid en die FGGW se Sentrum vir Gesondheidstelsels en Dienstenavorsing en -ontwikkeling (CHSSRD), beskou ernstige bestuursgebreke in sleutelposte by distriks- of subdistriksgeriewe as 'n ernstige uitdaging.

“Mense sonder die nodige vaardighede word dikwels tot bestuursposisies bevorder. Jy het op daardie vlak baie bekwame mense nodig om die stelsel werklik te transformeer," verduidelik Mash. “Dit is dikwels gesondheidsorgwerkers wat aansoek doen om die uitvoerende hoof van 'n hospital te word. Dit beteken jy stel 'n verpleegkundige, 'n arbeidsterapeut, 'n fisioterapeut of 'n maatskaplike werker aan. Hul professionele agtergrond het hulle glad nie daarop voorberei om die uitvoerende hoof van 'n hoogs gekompliseerde organisasie te wees nie, maar nou is hulle skielik verantwoordelik vir menslike hulpbronne, infrastruktuur, die aanvoerketting en strategiese beplanning."

Dudley sê die inwerkingstelling van die NGV sal waarskynlik tot die kompleksiteite van gesondheidsorgbestuur bydra, want dit sal die kontraktering van dienste uit beide die openbare en private gesondheidsektor behels.

“Die minister van gesondheid het reeds erken dat gehalte-hospitale bestuurders nodig het wat behoorlik in geneeskunde én bestuur gekwalifiseer is. Daar is egter bloedweinig sulke bestuursprogramme beskikbaar en in die praktyk word die persoon wat die langste daar is, gewoonlik bevorder."

Dudley en haar kollegas by die CHSSRD het 'n nagraadse diploma in gesondheidsbestuur ontwerp wat spesifiek gemik is op individue wat reeds senior bestuursposisies beklee. Dit is op uitvoerige en deeglike navorsing gegrond en bied 11 toegepaste modules, waaronder projek- en operasionele bestuur, finansiële bestuur, gesondheidstegnologie en gehalteverbetering.

“Ons moedig ervare kandidate aan om in te skryf en ons verwag van hulle om die teorie wat in die klaskamer oorgedra word, in die werkplek toe te pas," sê sy.

Volgens Mash is bestuurders en leiers met 'n meer transformatiewe en samewerkende leierskapstyl nodig. “Dit is moeilik om mense te help om daardie oorgang te maak as hulle in hul grootwordjare nooit enigiets anders as bevel en beheer, dikwels in 'n ekstreme vorm, ervaar het nie."

 

Onderskrif: Proff Lilian Dudley en Bob Mash

Foto's: Damien Schumann & Stefan Els