Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Pediaters deel kennis met kollegas in Oos-Kaap
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 03/07/2017

​Ná net ses maande as kliniese assistent in pediatrie by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) was dr Lunga Mfingwana (29) – ʼn Oos-Kapenaar – só geïnspireer dat hy ʼn uitreikaksie na die Nelson Mandela Akademiese Hospitaal in Mthatha begin reël het.

“Dit was soos pediatrie op steroïede," onthou hy sy beginmaande in die Departement Pediatrie en Kindergesondheid aan die FGGW. “Die kundigheid, die manier waarop dinge gedoen word, die kindersterftesyfer wat hier soveel laer is as in die Oos-Kaap – dit het my werklik beïndruk."

Mfingwana het ʼn tydjie by die Nelson Mandela Akademiese Hospitaal gewerk nadat hy aan die Walter Sisulu-universiteit in Mthatha medies gestudeer en daarna sy internskap en gemeenskapsdiens in onderskeidelik Oos-Londen en Port Alfred voltooi het.

Met die goedkeuring en ondersteuning van prof Mariana Kruger, die uitvoerende hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die FGGW, het Mfingwana verlede jaar die wiele vir die uitreikaksie aan die rol gesit. Waardevolle insette en hulp is ook verleen deur proff Rob Gie (pulmonologie), Pierre Goussard (pulmonologie) en Johan Smith (neonatologie).

Vroeër vanjaar het die uitreikaksie ʼn werklikheid geword. Mfingwana is na Mthatha vergesel deur twee pediatriekonsultante, drs Julie Morrison (pulmonologie) en Gugu Kali (neonatologie), wat 'n drie-dag kursus by die Walter Sisulu-universiteit aangebied het.

Volgens Mfingwana was die reaksie daar baie positief en het die entoesiastiese konsultante te doen gekry met toegewyde dokters wat na inligting smag. “Kliniese assistente en dokters het, nadat hulle aan diens was, op stoele geslaap in afwagting op middaglesings. Die ouditorium was elke aand vol, selfs met belangstellendes uit die privaatsektor."

Die uitreikaksie skakel in by Mfingwana se droom om te verseker dat elke kind die reg op goeie gesondheidsorg het.

Hy beskryf dit as ʼn hoogtepunt om deel te wees van ʼn span wat nie daarvan wegskram om vaardighede en kundigheid te deel nie en wat verseker dat die res van die land nie agterbly wanneer dit kom by die beoefening van geneeskunde en mediese navorsing op ʼn internasionaal voorgeskrewe wyse nie.

“Die US het die deure oopgemaak vir die oordrag van vaardighede na die res van Afrika. Ek is baie trots daarop dat ons by die Departement Pediatrie en Kindergesondheid besluit het om die hand uit te steek na kollegas in ander provinsies."

Caption: Drs Gugu Kali, Lunga Mfingwana en Julie Morrison tydens die uitreikaksie in Mthatha.