Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US ontvang reuse individuele skenking
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 29/06/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) het een van sy grootste individuele skenkings nog ontvang – ʼn bedrag van R194.6 miljoen. Dié skenking is in die vorm van ʼn erflating deur wyle mnr DW (Dirk) Ackermann, ʼn ingenieur van beroep.

“ʼn Belegging in die toekoms van ʼn nuwe geslag Maties.” So beskryf prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier die skenking aan die Universiteit. “Dit is verseker een van die mees betekenisvolle skenkings wat die universiteit nog van ʼn individu ontvang het. Die US-gemeenskap is baie dankbaar en het regtig groot waardering vir mnr Ackermann vir hierdie besondere erflating. Ons waardeer dit opreg,” het prof De Villiers gesê.

Die erflating, in die vorm van ʼn aandeleportefeulje ter waarde van R8.4m, is reeds in 2006 deur mnr Ackermann aan die Universiteit Stellenbosch bemaak. Mnr Ackermann is ʼn aantal jare gelede oorlede.

“Die waarde van die aandeleportefeulje het intussen van R8.4m na R194.6m gegroei,” vertel mnr Hugo Steyn van die US se Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge kantoor. “Onderworpe aan die voorwaardes van mnr Ackermann se erflating, is hierdie skenking onlangs ten volle aan die Universiteit oorgedra.

Soos bepaal in sy testament, sal die Universiteit hierdie bemaking gebruik om die DW Ackermann Beursfonds op die been te bring tot voordeel van verdienstelike studente in die dissiplines van elektroniese en elektriese ingenieurswese, die kapitaal dienooreenkomstig belê en die inkomste gebruik vir beurse wat jaarliks beurse toegeken sal word in terme van die kriteria bepaal in sy testament.

“Die fonds sal as ʼn skenkersfonds bestuur word en volhoubaar aangewend word om baie studente in die toekoms te ondersteun. Die fonds sal binnekort beskikbaar wees en na konsultasie met die Fakulteit sal beurse heel moontlik reeds vanaf 2018 toegeken kan word,” het Steyn gesê.

Totale skenkings aan die US in 2016 het met 53% toegeneem van die vorige jaar, en het ook die hoeveelheid skenkings wat in 2014 ontvang is, oorskry.

“Die aanname dat alle US-studente uit welgestelde families kom, is nie korrek nie. Meer as ʼn derde van ons nuutste gegradueerdes het een of ander vorm van finansiële ondersteuning tydens hul studies ontvang,” het prof De Villiers bygevoeg. “Dit is fassinerend om te sien hoe dit oor tyd verander het. In 2000 het 28% Maties finansiële ondersteuning ontvang. Teen 2014, het die syfer gestyg tot 38%. En verlede jaar was 41% van ons studente uit die sogenaamde verlore middelgroep (‘missing middle’) – huishoudings met ʼn gesamentlike inkomste van minder as R600 000 per jaar.”

Aan die begin van 2017 het die US R1,1 miljoen in filantropiese skenkings ontvang, geoormerk om die finansiële behoeftes van studente aan te spreek. Dié skenkings is in ooreenstemming met die doelwit en rol van die “Register All”-beurse wat deur die Studenteraad geadministreer word.

Die US het in die 2016 akademiese jaar drie nuwe rekords opgestel. Finale syfers toon dat die Universiteit altesaam 8 348 kwalifikasies toegeken het, 5,6% meer as die vorige jaar. Dit sluit 1 468 meestersgrade in – die meeste nog vir een jaar. Dieselfde geld vir die aantal doktorsgrade. Altesaam 278 doktorsgrade is toegeken, waarvan 47% (teenoor 39% in 2015), aan swart, bruin, Indiër en Asiër-studente toegeken is.

“Dit bevestig die US se waardevolle bydra as ʼn nasionale bate en dit stuur ‘n sterk sein aan potensiële skenkers wat ʼn belang het by voortgesette studentesukses en ʼn stabiele uitset van gegradueerdes vir die ekonomie wil sien. Onlangse navorsing wys daarop dat ons goed daarin vaar om donateurs te behou en die hoeveelheid geld wat hulle skenk, te vermeerder,” het prof De Villiers gesê.