Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verdraagsaamheid uiters belangrik in ʼn demokrasie
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 23/06/2017

Behoort ons altyd verdraagsaam te wees teenoor sienings en optrede van ander mense? Beteken verdraagsaamheid dat ons dinge waarmee ons heeltemal verskil moet aanvaar of duld? Is daar grense aan die kontroversies wat ons bereid is om te duld?

Hierdie was van die vrae wat prof Nuraan Davids van die Departement Opvoedingsbeleidstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US) op Donderdag (22 Mei 2017) probeer beantwoord het. Sy was die spreker by die derde Stellenbosch Forum-lesing van 2017. Die Stellenbosch Forum lesingsreeks bied gereelde geleenthede aan US-personeel en -studente, sowel as belangstellendes vanuit die publiek, om meer te leer oor die relevante, wêreldklasnavorsing wat by die US gedoen word.

Davids het gepraat oor die belangrikheid van verdraagsaamheid teenoor uiteenlopende en kontroversiële sienings in demokratiese samelewings. Sy het in die verband op haatspraak as 'n vorm van kontroversie gefokus.

Davids het na die onlangse Nazi-geïnspireerde plakkate op die US-kampus verwys, en gesê "hoewel ons nie sulke idees en ideologieë of ander vorme van haatspraak hoef te aanvaar nie, moet ons mense se reg en legitimiteit om bepaalde sienings te hê en dit te huldig en te verdedig erken."

"Mense moet toegelaat word om hul standpunte te lug en te verduidelik. Mense het die reg om te glo wat hulle wil, maar ons besluit of ons dit wil aanvaar of nie."

"Liberale demokrasieë moet bereid wees om sienings wat skynbaar liberale waardes ondermyn te verdra."

Davids het gesê wanneer ons mense stilmaak tree ons eintlik ondemokraties op.

Sy meen verdraagsaamheid help om ruimte te skep vir verskille, dissonansie en kontroversies en ook om dit te kweek. Davids het byvoeg dat verdraagsaamheid egter nie uitsprake en optrede wat skade doen en vervreem verdedig nie.

"Verdraagsaamheid help ons om te erken dat daar dalk ander oorwegings is hoekom mense verskillende idees het."

Davids het aangevoer dat in plaas daarvan om iets soos haatspraak te ontken, moet ons dit teenwerk deur dit ʼn ander betekenis te gee of dit omkeer op 'n manier wat geweld teen die mense veroordeel sonder om te erken dat haatspraak aanvaarbaar is.

"Dit impliseer dat jy 'n vorm van verdraagsaamheid toon in jou meningsverskil met 'n ander persoon. Met ander woorde, om uitsprake waarmee jy nie saamstem nie te verdra, is ʼn manier om haatspraak teen te werk."

Davids het egter gesê verdraagsaamheid beteken nie mense kan nie net doen wat hulle wil nie.

  • Prof Davids se lesing was gebaseer op die boek Tolerance and Dissent Within Education: On Cultivating Debate and Understanding (2017) wat sy saam met haar kollega, prof Yusef Waghid, geskryf het.

Foto: Prof Nuraan Davids lewer die Stellenbosch Forum-lesing.

Fotograaf: Justin Alberts