Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bruin gemeenskap dans al lank Langarm
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 21/06/2017

​Die gewilde Suid-Afrikaanse dansvorm Langarm roep dikwels beelde op van paartjies wat op die maat van Afrikaanse popmusiek sokkie-dans. Dit is waarskynlik hoe baie wit Suid-Afrikaners Langarm sal beskou.

Maar Langarm soos dit vandag bekend staan, is baie meer as net sokkie: dit het ʼn ryk geskiedenis en was reeds in in die koloniale tydperk in die Kaap as ʼn vorm van ontspanning en vermaak bekend.

Langarm het mettertyd al hoe meer populêr binne die bruin gemeenskap geraak, en is beïnvloed deur ʼn verskeidenheid dansstyle en musiek, insluitend Engelse kontradans (oftewel 'Country dancing'), Kadriel-danse, militêre dansgroepe en Kaap-Maleise Kadrieldans-groepe.

"Die term 'Langarm' was reeds wyd deur die sogenaamde bruin gemeenskap van Distrik Ses en die Kaap as geheel teen die laat twintigste eeu gebruik, om te verwys na die destydse Baldans (Ballroom)-geleenthede en dansgroepe, asook vroeë Baldans-geleenthede en groepe van die 1930s af," sê Michael Dunseith, wat onlangs sy meestersgraad in Musiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het. Hy ondersoek tans verskeie addisionele onderwerpe vir publikasie, na aanleiding van sy tesis.

Willie Jales and the Author 001.jpgWyle mnr Willie Jales se passie om die nalatenskap van die Kaapse Langarm-dansgroepe te behou, was die inspirasie vir Dunseith se navorsing. Dunseith het die betekenis en oorsprong van Langarm-dans ondersoek, asook wat dit vir die bruin gemeenskap in die Kaap beteken. Jales was ʼn tenoor en alt-saksofoonspeler, oorspronklik van Distrik Ses, asook die leier van beide ʼn Kersfeeskoor en ʼn Baldans-Langarm groep genaamd Willie's Starlite Orchestra.

Dunseith het primêre en sekondêre bronne benut om historiese inligting te versamel vir sy navorsing, en het ook talle onderhoude met leiers en lede van twee aktiewe dansgroepe, The Strand Combo en Kallie's Dance Band van Grabouw, gevoer en baie van hul funksies bygewoon.

Soos Jales het Dunseith die term Ballroom-Langarm gekombineer in ʼn tweetalige term wat die kultuur binne die klassieke Baldans-praktyk vestig. ʼn Plaaslike invloed is egter duidelik merkbaar met die vastrap-ritme, wat uitsluitlik gebruik was by Kadrieldanse maar wat tans gebruik word vir los- of lyndanse.

"Die bruin mense van die Kaap het die term 'Langarm' hul eie gemaak en vir hulle verwys dit spesifiek na ʼn Baldans-geleentheid en die musiek en danse wat daarmee geassosieer word," sê Dunseith.

"Geen ander kulturele groep in Suid-Afrika gee uiting aan ʼn aand van Ballroom-Langarm op dieselfde manier as lede van die bruin gemeenskap nie. Bruin mense het uitstekende baldans-vaardighede wat gekombineer is met oorblyfsels van die kadriel (oftewel 'Squares') en ook die vastrap-ritme gebruik. Hierdie ritme is aangepas vir moderne weergawes van die Amerikaanse-lyndans wat herinner aan ʼn spesifieke vorm van Engelse Volksdanse, genaamd 'Longways'."

Volgens Dunseith het navorsing getoon die Baldans-Langarmmusiek- en danspraktykte van Kaapse bruinmense verteenwoordig ʼn ononderbroke tradisie van musikale- en dansvaardighede wat strek vanaf die ontstaan van die Kaapkolonie tot vandag.

May-Wedel Troubadours.jpg

Wat die toekoms van Langarm betref, sê Dunseith dit is nog lank nie dood nie.

"Volgens ʼn navorsingskonsultant en voorste dansonderwyser in Kaapstad, Shireen Steenkamp, is daar ten minste vyftig klein dansateljees in die Kaapse Metropool waar die volgende geslag Baldans-Langarm-dansers opgelei word."

"Die ouderdomme van diegene by hierdie geleenthede, wat gereeld oor die Kaapstadse Metropool in stads- en gemeenskapsale plaasvind, is eweredig versprei oor alle ouderdomsgroepe vanaf die middel twintigs en ouer. Dieselfde geld ook die groepslede. Daar is ongeveer tien top-dansgroepe in die Kaapse Metropool wat op fondsinsamelingspogings vir inkomste staatmaak."

Dunseith sê daar is steeds ʼn sterk bewustheid en kennis van formele Baldans-Langarm onder dansers van alle ouderdomme, asook die dansgroepe en hul keuse van musiek.

"Solank hierdie bewustheid gehandhaaf kan word, sal die danspubliek deur middel van dansstudio's, gekombineer met die pret en kameraadskap van nuwe lyndanse, hierdie unieke gebeurtenisse as belangrike geleenthede vir sosiale interaksie in ʼn genotvolle en burgerlike omgewing binne die gemeenskap geniet."

Foto's:

Bo:

Willie Jales (links) en Michael Dunseith in 2012 by Jales se huis in Lansdowne, Kaapstad.

Onder:

Die May-Wedel Troubadours van Distrik Ses in aksie in die 1950's. Davy May en die Wedel-broers het die groep gestig. Davy May was Willie Jales se mentor en het in die straat af van hom gewoon in Distrik Ses. Verskaf deur Jerome Jales en die Willie Jales Versameling.