Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Welgevallen se AgroHub geopen
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 15/06/2017

'n Nuwe baadjie, nuwe intrekkers, 'n nuwe gedeelde visie en 'n nuwe naam. Dìs die verhaal van die Wintergraangebou Blok 6 op die Universiteit Stellenbosch (US) se Welgevallen Proefplaas. Dit is verlede week weer amptelik in gebruik geneem na afloop van 'n volledige verjongingskuur. Die gebou sal voortaan as die AgroHub bekendstaan.

Volgens prof Danie Brink, waarnemende dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, was die gebou grootliks onderbenut vir US-doeleindes, en daarby was dit ook reeds oud, afgeleef en nie meer werknemervriendelik nie. Daarom is besluit om die gebou doelmatig in te rig, en kantoorspasie aan navorsingsverwante instellings in die landboubedryf te verhuur.

Ruimte word reeds beset deur HORTGRO Science, Citrus Research International (CRI) en AgriColleges International, en die US Departement Genetika se Plantteeltlaboratorium. Die gebou is tans 75% vol. Samesprekings is ook aan die gang met ander entiteite.

Fondse vir die opgraderingsprojek kom onder meer uit 'n bydrae deur die Fakulteit AgriWetenskappe sowel as die Universiteit Stellenbosch se Sentrale Strategiese Fonds. HORTGRO Science en het daarby R1 miljoen tot die inrigting van die gebou bygedra, terwyl CRI International 'n langtermyn huurooreenkoms gesluit het.  

Deon den Hartog van DHQS Projects en Junaid Gafieldien van die US Fasiliteitsbestuur het die projek gedryf.  

"Die projek is veel meer as net 'n kwessie van meer doeltreffende ruimtebenutting, maar sal toenemend transdissiplinêre navorsingsmoontlikhede tussen die Universiteit en ander navorsingsentiteite help ontsluit," het prof Brink by die openingsgeleentheid gesê. Hy glo dat dit nouer samewerking tussen industrievennote verseker. Volgens hom is die projek deel van die "nuwe manier" waarop instellings in die hoër onderwyssektor toenemend sal funksioneer.

Prof Brink het ook die kans gebruik om die landboubedryf in die breë, asook plaaslike vennote soos die Wes-Kaapse Departement van Landbou, te bedank vir die wyse waarop hulle vir bykans 'n eeu reeds betrokke is by landbou-onderrig en -navorsing aan die Universiteit Stellenbosch. Hy reken dat volgehoue bedryfsvennootskappe help om die Fakulteit relevant, toonaangewend en op koers te hou.

By die openingsgeleentheid het Willem Botes van die Plantteeltlaboratorium ook uitgebrei oor die opgradering van geriewe op Welgevallen Proefplaas waardeur veral die Universiteit se kleingraanteeltprogram versterk word. Dit sluit onder meer moderne groeikamerfasiliteite en nuutingerigte laboratoriums in. Die verbeteringe onder meer moontlik gemaak danksy befondsing uit die Fakulteit se Strategiese Fonds.

Daarby is nuwe landboutoerusting soos 'n Wintersteiger proefstroper en planter, hommeltuie en 'n selfstuur Claas Talos Trekker ook oor die afgelope paar maande bekom. 'n Perten naby-infrarooi spektroskoop (NIR) is ook vir die kwaliteitstoor aangekoop. Volgens Botes is die befondsing vir die aankoop van die toerusting grootliks vanaf Graan SA en THRIP verkry, en maak dit 'n waardevolle toevoeging tot sy laboratorium se koringvoortelingsprogram. 

  • Bedryfsvennote wat belangstel om kantoorspasie in die AgroHub te huur kan dr Michael-John Freeborough, fakulteitsbestuurder van die Fakulteit AgriWetenskappe, kontak by mfree@sun.ac.za of 021 808 4802.

 

Ontmoet die AgroHub se nuwe "inwoners":

  • HORTGRO Science is HORTGRO se navorsingsbeen. Personeel doen onder meer navorsing tot bevordering van die sagtevrugtebedryf, terwyl projekte en inisiatiewe by ander instellings soos die US ook ruim befonds word. Dit sluit onder meer 'n leerstoel in die Departement Hortologie in, asook tientalle projekte deur Matie-navorsers en -studente.
    www.hortgro-science.co.za
  • Citrus Research International (CRI) doen navorsing en maak tegniese insette in veral die suider-Afrikaanse sitrusbedryf. Dit fokus veral op aspekte rondom die uitvoer van sitrus na die wêreldmark. CRI bedryf drie kantore landswyd: in Nelspruit, Port Elizabeth en Stellenbosch. Die organisasie se hoof-uitvoerende beampte, dr Vaughan Hattingh, en  fitosanitasiespesialis Elma Carstens se kantore is in die AgroHub. Die CRI staan in vennootskap met talle navorsingsinstellings. Verskeie CRI-wetenskaplikes werk onder meer in departemente van die US Fakulteit AgriWetenskappe.

    www.citrusres.com
  • AGRICOLLEGES International fokus op opleiding in die landbousektor. Dit is 'n e-leer instelling wat die Brightspace onderrigbestuursisteem gebruik om bekostigbare, toeganklike en bedryfsrelevante landboukursusinhoud aan studente te lewer – hopelik reeds vanaf 2018. AGRICOLLEGES International het 'n strategiese vennootskap met die Universiteit Stellenbosch gesluit om 'n e-leer gebasseerde kurrikulum vanaf NQF Vlak 5 af te kan verskaf. www.agricolleges.com

 

Foto onderskrif:

By die openingseremonie was (van links) dr Vaughan Hatting van Citrus Research International, mnr Richard Krige van die Wintergraan Trust, dr Tharina Theron, senior direkteur: navorsing en innovasie aan die US, me Theresa Sonnenberg namens HORTGRO Science, en prof Danie Brink, waarnemende dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe.