Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lewensredding 'n sport én lewenstyl vir Rekeningkunde-student
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 15/06/2017

Lauren Billson (22), ’n student aan die Universiteit Stellenbosch, is dol oor die buitelewe en waar ander mense dalk in hul spore sou omdraai, gryp hierdie SA lewensredder die uitdaging aan om yskoue water, reuse-golwe, bloublasies en seestrome aan te durf. 

Lauren, wat tans met haar honneursgraad in Rekeningkunde besig is, is by die Statebondspan ingesluit wat Suid-Afrika van 10-12 Augustus by die Fees van Lewensredding-kampioenskap in Durban sal verteenwoordig.

Lauren het in Port Elizabeth grootgeword en het, toe sy 14 jaar oud was, met see-lewensredding (kompetisie op die strand) begin. Sy het met stilwater-lewensredding (kompetisie in 'n swembad) begin toe sy 18 jaar oud was en by Maties ingeskryf het.

See-lewensredding sluit 'n wye verskeidenheid items in, onder meer swem, hardloop swem hardloop, ysterman ('n kombinasie van swem, plankry en roeiplank) sowel as 'n paar reddingnabootsing-wedrenne. Stilwater-lewensreddingbyeenkomste vind in 'n swembad plaas, dikwels met die gebruik van toerusting soos vinne en reddingsbuise. 'n Paar items sluit die redding van 'n pop in.

"Omdat ek 'n swemmer is, neem ek hoofsaaklik aan swemitems deel," sê sy.

Sy is ook 'n lid van die Maties Swemklub en verteenwoordig die universiteit by universiteitsgalas en die jaarlikse USSA-kompetisies.

"Dit is vir my 'n eer en ek is baie opgewonde om weer my land te verteenwoordig," sê Lauren wat Suid-Afrika by die 2016 Wêreld Lewensreddingkampioenskap verteenwoordig het waar sy sewende in branderswem gekom het.

Hierdie byeenkoms was vir haar 'n groot hoogtepunt.

"Dit was ongelooflik om deel van hierdie tweejaarlikse kampioenskap te wees waar 'n groot (en steeds groeiende) aantal lande byeengekom het om hul beste lewensredders in sowel die swembad as in die branders ten toon te stel."

Haar droom is om Suid-Afrika by die 2017 Internasionale See-lewensreddingkampioenskap in Nieu-Seeland sowel as die 2018 Wêreld Lewensreddingkampioenskap te verteenwoordig.

"Dit sal baie van my studies afhang aangesien dit my finale jaar is en studies eerste moet kom," sê sy.

Lauren sal in 2018 by die firma KPMG aansluit om haar rekeningkunde-klerkskap en raadseksamen te voltooi.

"Ek was nog altyd 'n besige meisie wat tussen die klaskamer, sportveld en swembad rondhardloop. Ek moes êrens langs die pad tydbestuur bemeester het. Natuurlik moet sekere opofferings gemaak word om seker te maak dat ek alles gedoen kry. Maar ek het nog altyd verkies om besig te bly."

Lauren oefen sowat 15 uur per week, met sessies in die swembad sowel as die gimnasium.

"Ek draf ook so bietjie in die afseisoen en nader aan die lewensreddingseisoen pas ek een tegniese sessie per week in. Dit is waar ek my stilwater-items oefen. Dit is nogal tegnies."

Vir haar is lewensredding 'n lewenstyl sowel as 'n sport.

"Daar is 'n item vir amper elkeen en jy kry kans om teen topatlete van oor die hele wêreld heen deel te neem aan van die wêreld se mooiste kuslyne."

Die enigste nadeel is dat lewensredding nie 'n hoofstroom sport is nie en daarom nie goed bekend nie.

"Dit is moeilik om dit vir iemand te verduidelik wat geen kennis daarvan het nie. Daar is groot gebrek aan erkenning vir sommige van die wêreld se beste atlete."

  • Lauren is nie die enigste Billson-sibbe om Suid-Afrika te verteenwoordig nie. Haar ouer suster, Carmel, is die spankaptein terwyl haar jonger suster, Natalie, ook 'n student aan Universiteit Stellenbosch, by die Statebond se Nasionale  Presidentspan ingesluit is.