Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Khethelo Xulu
Agter die kap van die misdaadbyl
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 15/06/2017

Hoekom pleeg sommige mense gewelddadige misdade skynbaar net vir die pret? Het hulle besonder ongelukkige kinderjare gehad of is hulle op ’n manier "vooraf geprogrammeer" om wreedheid te geniet?

Vir sy PhD-navorsing gebruik Khethelo Xulu sy kennis van molekulêre biochemie en genetika om die verskynsel van sogenaamde dranggedrewe aggressie te ondersoek. Sy werk vorm deel van ’n studie deur die Departement Psigiatrie se SARC hI-leerstoel in Posttraumatiese Stresversteuring (PTSV) oor die invloed van geweld en trauma op Suid-Afrikaners en hoekom sommige dit beter as ander verwerk.

"Mense wat dade van dranggedrewe aggressie pleeg, word blykbaar nie getraumatiseer deur wat hulle tydens hul aanvalle sien en hoor nie en voel gemaklik in onveilige en wrede omgewings," sê Xulu oor sy navorsing onder toesig van dr Sian Hemmings, prof Soraya Seedat en dr Stefanie Malan-Muller.

Sy studie is die eerste oor dié onderwerp wat fokus op ’n spesifieke populasie jong Suid-Afrikaanse mans wat voorheen met die gereg gebots het. Genetiese monsters van 290 Xhosa-mans is ingesamel en die 5-HTT-geen is geëvalueer. Dié geen speel ’n rol in die vervoer van serotonien, ’n neuro-oordraer wat beïnvloed hoe mense op stres reageer.

Xulu en sy medenavorsers kon geen verband vind tussen aggressiewe gedrag en spesifieke genetiese variasies in die promotorgebied van die serotonientransporter 5-HTT by die betrokke deelnemers nie.

Daar skyn egter ’n verband tussen dranggedrewe aggressie en die teenwoordigheid van die intron 2 (ST in2) 10-herhaling alleel te wees. Dié stukkie genetiese materiaal word gekoppel aan ’n lae uitdrukking van 5-HTT, en in die proses ook aan ’n wangereguleerde, swakker reaksie op stres. Die waarskynlikheid is ook groter dat mense met dié allele nuwighede sal najaag, aggressief sal optree en driftig sal wees.

"Hoe meer ons weet van die molekulêre meganismes en die genetiese argitektuur van die essensiële gene wat neurooordraers kodeer, hoe beter kan ons die molekulêre onderbou van die ontwikkeling van dranggedrewe aggressie en ander geestesversteurings verstaan.

"Dit is veral belangrik om uit te vind hoe PTSV en aggressiewe gedrag in ’n unieke Suid-Afrikaanse populasie ontwikkel," sê Xulu.


Onderskrif: Khethelo Xulu doen navorsing oor ‘n verskynsel genaamd dranggedrewe aggressie.