Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing kan chroniese pyn help verlig
Outeur: Dr Alec Basson
Gepubliseer: 08/06/2017

​ʼn Navorser aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn stel bewysgebaseerde riglyne ontwikkel wat die behandeling van chroniese muskuloskeletale pyn (CMSP) in ʼn Suid-Afrikaanse konteks sal verbeter.

CMSP het ʼn nadelige uitwerking op gesondheid en beïnvloed liggaamlike vermoëns, sielkundige gesondheid en die vermoë om alledaagse take te verrig.

"CMSP is ʼn globale gesondheidsorgprobleem en raak mense van verskillende ouderdomme, geslagte en kultuurgroepe. Dit is ʼn belangrike oorsaak van ongeskiktheid en raak die gesondheid en lewensgehalte van die individu nadelig," verduidelik dr Dawn Ernstzen van die Afdeling Fisioterapie aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Ernstzen het onlangs haar doktorsgraad in fisioterapie aan die US verwerf. Sy het ondersoek hoe CMSP tans in Suid-Afrika behandel word, asook faktore wat sulke behandeling fasiliteer en verhinder.

CMSP is pyn wat gewrigte, spiere, senings en senuwees aantas en langer as 12 weke duur – dus langer as die verwagte genesingstyd. Dit vererger met ouderdom en kan simptomaties van verskeie toestande wees, byvoorbeeld osteoartritis, gewrigsontsteking, ruggraatpyn (bv. lae rugpyn), seningbeserings en hoofpyn. In sommige gevalle ervaar die pasiënt die pyn jare lank.

Ernstzen het al met baie pasiënte met chroniese pyn te doen gehad en sê sy wou gesondheidsorgwerkers en pasiënte help om makliker toegang tot behandelingsopsies vir muskuloskeletale sorg te bekom. Sy wou ook pasiënte se stories vertel oor hoe hierdie pyn hulle raak.

As deel van haar studie het Ernstzen ʼn kliniese riglynraamwerk ontwikkel vir die behandeling van CMSP in Suid-Afrika, waar heelwat pasiënte vir hulp vir muskuloskeletale pyn by primêre gesondheidsorginstellings aanklop.

Haar navorsing onder 20 pasiënte (30-70 jaar) en 21 klinici (23-63 jaar) by drie verskillende gesondheidsorgsentrums in die Wes-Kaap het getoon CMSP tas mense se vermoë aan om hul gewrigte te gebruik en alledaagse take te verrig. Dit raak voorts hul algemene welstand en het ʼn invloed op hul vermoë om aan ontspanningsaktiwiteite deel te neem en hul werk te doen.

Ernstzen het inligting oor praktykpatrone, asook faktore wat behandeling verhinder en fasiliteer, gebruik om ʼn riglynraamwerk te ontwikkel wat spesifiek op die Suid-Afrikaanse konteks van toepassing is. Die inligting is ook gebruik om ʼn "model"- kliniese baan te ontwikkel vir die behandeling van pasiënte wat met CMSP gediagnoseer word.

Haar kliniese riglyne bevat stellings of formulerings oor verskeie intervensies of strategieë wat gebruik kan word om CMSP te behandel. Van hierdie stellings bevat bykomende inligting wat besluitneming oor ʼn spesifieke intervensie in ʼn Suid-Afrikaanse konteks kan beïnvloed.

"Die riglyne benadruk dat CMSP nie net met medikasie behandel moet word nie, en dat rehabilitasie in die vorm van liggaamlike aktiwiteit (oefening), sielkundige ondersteuning en die bemagtiging van die pasiënt ʼn belangrike rol speel.

"Die riglyne beveel ʼn pasiëntgesentreerde benadering aan, wat die fokus op die spesifieke behoeftes en verhoogde tevredenheid van die pasiënt plaas. Die bemagtiging en opvoeding van die pasiënt is van sleutelbelang, sodat pasiënte bemagtig word met kennis oor hul toestand en maniere om hul eie welstand te behartig terwyl hulle met pyn saamleef."

Ernstzen meen die riglyn-raamwerk kan ʼn kitsgids vir geneeshere wees oor behandelingstrategieë vir CMSP en die bewysbasis vir elke behandelingsopsie verskaf.

"Dit is ʼn kitsgids oor erkende strategieë om CMSP te behandel. Dit bied dus maklike toegang tot bygewerkte en relevante inligting, wat tyd kan bespaar en doeltreffendheid kan verbeter."

Die raamwerk bied voorts ʼn "modelbaan" vir pasiëntsorg in die gesondheidsorgstelsel en ʼn aanduiding van die verskillende gesondheidsorgpraktisyns wat by die behandeling van pasiënte betrokke kan wees, naamlik verpleegkundiges, dokters, fisioterapeute, arbeidsterapeute en geestesgesondheidspraktisyns. Hierdie "baan" vir die verwysing van die pasiënt van een praktisyn na ʼn ander kan doeltreffendheid en pasiëntuitkomste verbeter.

Volgens Ernstzen kan die kliniese riglyne die uitkomste vir die pasiënt én die gesondheidsorgstelsel wat betref doeltreffendheid, koste, hulpbronne en so meer verbeter, maar dan moet dit in die praktyk in werking gestel word.

"Die inwerkingstelling daarvan moet deur beleid en gesondheidstelsels gerugsteun word en CMSP moet in gesondheidsbeleide as ʼn chroniese toestand erken word.

"Sodra die aanbevelings in werking gestel is, kan dit die pasiënt se kennis en begrip van die toestand verbeter, vaardighede uitbrei om dit die hoof te bied, en krag, soepelheid en funksionele vermoëns verbeter."

Volgens Ernstzen verg die finalisering van die riglyne nog heelwat werk en hoop sy om dit binne die volgende vier jaar as ʼn loodsprojek in werking te stel.

 

Onderskrif: Chroniese muskuloskeletale pyn het ʼn nadelige uitwerking op gesondheid en beïnvloed liggaamlike vermoëns, sielkundige gesondheid en die vermoë om alledaagse take te verrig.