Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Emma het groot drome – binne en buite die swembad
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 06/06/2017

Maties Swem se Emma Chelius was net agt maande oud toe sy haar eerste waterveiligheidsklas bygewoon het.

Nou, net meer as 20 jaar later, is hierdie BCom-student in haar derde jaar gekies vir die Suid-Afrikaanse span wat van 23-30 Julie aan die 17de FINA Wêreldswemkampioenskap in Boedapest, Hongarye, sal deelneem.

"Dit was nogal 'n verrassing (om vir die span gekies te word) en ek dink dit gaan 'n ongelooflike geleentheid en 'n fantastiese leerervaring wees om teen van die beste swemmers in die wêreld deel te neem! Dit is altyd 'n eer om Suid-Afrika in die swembad te verteenwoordig en ek sien baie uit daarna," sê Emma, wat Suid-Afrika al op juniorwêreldkampioenskapvlak verteenwoordig.

Sy het keurders se aandag getrek by die Suid-Afrikaanse nasionale swemkampioenskap in April toe sy kwalifiserende tye vir die Universiade (Wêreldstudentespele) in sowel die 50m- en 100m-vryslagitems geswem het en daarmee twee silwermedaljes verower het. Sy het ook silwer in die 50m-vlinderslag gewen. Die 29ste Somerstudentespele vind in Augustus in Taipei, Taiwan, plaas. Daardie span moet nog aangekondig word.

As 'n voltydse student is dit nie altyd maklik om die eise wat sport en akademie stel, te balanseer nie, maar Emma het gevind dat sy goed onder druk funksioneer en die doeltreffendste is wanneer sy min tyd het.

"Maties Swem is baie toegeeflik wat betref lesingtye en toetse of eksamens, wat baie help. Dit is ook 'n seën om vriende te hê wat my ondersteun en help om werk in te haal wanneer ek lesings misloop omdat ek aan kompetisies deelneem. Hoewel dit baie sleg is om sosiale geleenthede te mis, het ek geleer om my werk en swemoefening te prioritiseer.

"As jy 'n suksesvolle studente-atleet wil wees, is dit nodig om te besef dat jy sekere lekker dinge sal moet opoffer vir jou sport. Die beloning is egter om die resultate te behaal waarvoor jy gewerk het."

Emma oefen ongeveer 14 uur in die swembad en 2 uur in die gimnasium per week.

Sy studeer tans om 'n Geoktrooieerde bestuursrekeningkundige te word, met die doel om by CIMA (Chartered Institute of Management Accountants) te registreer. Sy wil ook graag eendag haar eie besigheid begin.

Die deel van swem wat sy die meeste geniet, is om aan galas deel te neem en nuwe vriendskappe te vorm met mense van alle agtergronde.

En die slegste deel?

"Om in die winter in die swembad te duik!"

Maties Swem is 'n Hoëprestasieklub wat voorsiening maak vir ernstige swemmers en elite-presteerders sowel as swemmers wat net fiks wil bly. Dit is 'n oop klub met ongeveer 160 lede, waarvan 40 studente is. Die klub is baie trots op Emma.

"Jou passie en toewyding is 'n inspirasie vir ons almal by Maties Swem," het hulle gesê.

  • Maties Swem se Kiara Noades en Inge Weidemann is gekies om Suid-Afrika van 23-28 Augustus by die 6de FINA Juniorwêreldkampionskap in die VSA te verteenwoordig.