ʼn Mens kry nie aldag die geleentheid om jou professionele wêreld vir iemand anders sʼn te verruil nie.
Tóg het ʼn dokter wat in Amsterdam in ginekologie spesialiseer en ʼn kliniese assistent in verloskunde en ginekologie aan die Tygerberg-hospitaal onlangs juis so ʼn kans gekry. En omdat Suid-Afrikaanse akademiese hospitale drasties van hospitale in ontwikkelde lande verskil, het hulle altwee heelwat uit die ervaring geleer.
Van 1 Februarie tot 30 April 2017 het drs Marloes Derks van die Universiteit van Amsterdam en Kevin Abraham van die Universiteit Stellenbosch mekaar se skofte en verantwoordelikhede by hul onderskeie akademiese hospitale as deel van ʼn goed gevestigde, jaarlikse uitruilprogram oorgeneem. Hulle het ook sommer in mekaar se huise gewoon.
Net soos ander uitruilstudente wat vantevore aan die program deelgeneem het, het die twee dokters die avontuur gate uit geniet en in die proses waardevolle lewensvaardighede opgedoen en professionele vaardighede ontwikkel.
Derks se opleiding by Tygerberg het in sekere opsigte noemenswaardig van haar opleiding in Amsterdam verskil. In Nederland sal ʼn arts wat as spesialis opgelei word byvoorbeeld ʼn keisersnee of ʼn ektopiese swangerskap slegs in konsultasie met ʼn mediese span hanteer. By Tygerberg moes sy onafhanklik optree en self hierdie moeilike prosedures leer hanteer. "Gelukkig het ek én die pasiënte oorleef!"
In Amsterdam kry dokters in opleiding ook meestal net met pasiënte in die vroeë stadiums van servikale kanker te doen. "Hier by Tygerberg het die meeste pasiënte reeds gevorderde kanker wanneer ons hulle die eerste keer begin behandel," sê Derks.
In teenstelling moes Abraham weer ʼn minder geïntegreerde rol in Nederland speel en meestal net waarneem – ʼn uitdaging op sigself. "In Amsterdam word pasiënte deur ʼn hele span dokters behandel," sê hy. "Ek was basies net ʼn helpende hand wat die rol van leerder moes inneem."
Die organisatoriese struktuur en die reusebegroting vir gesondheidsorg verseker dat pasiënte in Nederland net die beste sorg ontvang, sê Abraham. "Ek het baie oor die struktuur van ʼn ontwikkelde mediese stelsel geleer. Bewysgebaseerde behandeling geniet voorkeur en uiters moderne behandelings is wyd beskikbaar."
Die twee studente moes blyplekke ruil, aangesien dit vir Suid-Afrikaanse studente peperduur is om ʼn blyplek in Amsterdam te huur. Die verblyfreëling het beteken dat Abraham ook sy vrou en tweejarige peuter op die reis kon saamneem, asook dat die gesin in ʼn pragtige deel van die stad kon bly. "Ek en my vrou wou nog altyd na Europa reis. Dit was die ideale geleentheid."
Derks het ook heerlik in Abraham se huis in Kaapstad gewoon en elke dag sy motor gebruik om kampus toe en terug te ry. Sy is gaande oor Kaapstad en het haar ervaring met ʼn welverdiende vakansie in Suid-Afrika afgesluit.
Onderskrif: Drs Marloes Derks van die Universiteit van Amsterdam en Kevin Abraham van die Universiteit Stellenbosch het onlangs "lewens verruil" as deel van 'n uitruilprogram.