Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Samewerking met wetenskaplikes uit Afrika
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 01/06/2017

Dr Ethel Phiri en dr Natasha Mothapo het in April die Universiteit van Lagos (UniLag), in Nigerië, besoek om nuwe samewerkingsbande met Afrika-universiteite te smee om sodoende Afrika se navorsingsdomein te versterk. Beide dr Phiri en dr Mothapo is nadoktorale navorsingsgenote aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) befonds word. Dr Phiri is aan die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) verbonde, terwyl dr Mothapo by die Departement Plant- en Dierkunde inskakel. Hulle besoek is befonds deur die US se Kantoor vir Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies; 'n toekenning van die Sentrum vir Samewerking in Afrika (wat in die US se Internasionale Kantoor gesetel is); Whitehead Scientific, en die Internasionale Wetenskapstigting.

Dr Phiri en dr Mothapo is by UniLag veral deur dr Agboola en prof Umebese ontvang, wat aan die Fakulteit Natuurwetenskappe daar se Departement Plantkunde en Mikrobiologie verbonde is. Die oogmerk van talle gesprekke wat hulle met verskeie rolspelers by UniLag gevoer het, was om 'n Afrika-universiteite-netwerk te vestig en uit te brei, en sodoende die Afrika-navorsingsprogram te versterk. Dr Phiri het dit só gestel: "Daar is werklik 'n honger na kennis onder mense wat uit onderwysinstellings in Afrika kom." Beide dr Phiri en dr Mothapo praat besielend oor hulle visie van Afrika-navorsingsnetwerke in 'n US-vervaardigde video vir Afrikadag 25 Mei 2016.

Die twee doktore het ook seminare by die Fakulteit Natuurwetenskappe aangebied. Dr Phiri se aanbieding was 'n oorsig van die US, haar akademiese profiel en huidige navorsing, die belang van wees-oeste in Afrika, die Afrika Doktorale Akademie, en die navorsingsprogram vir en kollaboratiewe navorsing in Afrika. Die onderwerp van haar lesing was wees-oeste in Afrika en hoe dit verband hou met voedselsekerheid in Afrika in 'n veranderende omgewing. Haar huidige navorsingsbedrywighede by die IPB fokus op die geen-transkriptoom van inheemse wees-oeste. Sy het ook 'n gevestigde belang daarin om Afrika se beeld as 'n navorsingsgerigte kontinent te bevorder. "Ons is die geslag navorsers wat op Afrika se navorsingsprobleme moet fokus," het dr Phiri verklaar. Die hoogtepunt hiervan was toe dr Phiri en dr Mothapo onlangs 'n bydrae tot die nuuswerf The Conversation Africa gelewer het oor die impak van biotiese en abiotiese stres op wees-oeste en die dreigende aanslag op voedselsekerheid wat dit inhou. Klik hier om die artikel te lees.

article photo.png