Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SUNSEP se eerste videostroom onderwyser opleidingsessie
Outeur: Anneke Müller
Gepubliseer: 31/05/2017

Op Saterdag 27 Mei het SUNSEP haar eerste videostroom (streaming) onderrigsessies aan Natuurwetenskaponderwysers op twee verskillende dorpe buite Stellenbosch uitgesaai. Dit was aanvullend tot die vorige drie kontaksessies wat vroeër hierdie kwartaal in Vredendal aangebied is.

SUNSEP se praktykgebaseerde benadering tot professionele leer aan onderwysers behels kontakonderrigsessies, mentorskap in groepverband, ondersteuningsbesoeke ter plaatse sowel as e-ondersteuning en e-mentorskap.

Die Sentrum vir Leertegnologieë aan die Universiteit Stellenbosch het nuwe en alternatiewe konferensieprogrammatuur genaamd SUNStream, geïmplementeer. Dit maak bekostigbare tweerigting-interaktiewe videostroom via Adobe Connect moontlik. Deelnemers kan hierdie sessies oral en op enige toestel "bywoon"; 'n rekenaar, tablet of selfs 'n slimfoon.

Hierdie platform laat deelnemers toe om met mekaar te kommunikeer en interaktief aan meningspeilings deel te neem. Aanbieders kan ook dokumente op hul eie rekenaarskerm met die deelnemers deel. Die sessies kan ook afgelaai en later weer gekyk word. Hierdie sessie is van die SUNSEP-kantoor na twee groepe onderwysers gestroom: een groep in Vredendal en 'n ander in Citrusdal. 'n Vredendal-gebaseerde SUNSEP-fasiliteerder, mev Christa Philander en die WKOD se Kurrikulumadviseur vir Fisiese Wetenskappe in die Weskus, mnr Lyndon Manas, het die onderwysers tegnies ondersteun en saam met die onderwysers die sessies bygewoon.

SUNSEP het tot dusver die Universiteit Stellenbosch se telematiese platform gebruik en sal dit bly gebruik wanneer dit van toepassing is. Vooruitgang in tegnologie het egter die twee-riging interaktiwiteit van uitsendings verbeter en stroming na enige toestel moontlik gemaak. Uitsendings is ook nie meer net van toegang tot ʼn telematiese sentrums afhanklik nie. Hierdie uitbreiding versterk SUNSEP se e-leer aflewering van sy kortkursusse.

Die SUNSEP-span is baie opgewonde oor hierdie nuwe platform. "Noudat ons dit suksesvol getoets het, is die moontlikhede oneindig", het dr Trevor van Louw, direkteur van SUNSEP, gesê. Nou kan ons onderwysers op plattelandse gebiede ondersteun, sonder dat enigiemand groot afstande hoef te ry." 

Foto: SUNSEP besig om vir die stroming voor te berei: Mev Danelda van Graan, Mev Erika Hoffman, Mev Pauline Hanekom, Mnr Andrew Fair and Mnr Shaun Graham.