Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afdeling Navorsingsontwikkeling met nasionale toekennings vereer
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 31/05/2017

Die Afdeling Navorsingsontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch (US) is Woensdag (24 Mei 2017) met twee nasionale toekennings vereer is vir sy bydrae tot navorsingsbestuur in Suider-Afrika.

Die Afdeling Navorsingsontwikkeling het die Organisational Award for Excellence in Research Management by die jaarlikse Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT) en SARIMA (Suider-Afrikaanse Navorsings- en Innovasiebestuursvereniging)-toekennings vir Uitnemendheid in Navorsings- en Innovasiebestuur gewen. Die wenners is by 'n gala-byeenkoms by die Safari Court-hotel in Windhoek, Namibië, aangekondig.

Die jaarlikse DWT/SARIMA-toekennings vir Uitnemendheid in Navorsings- en Innovasiebestuur vier voortreflikheid in navorsings- en innovasiebestuur in Suider-Afrika. Hierdie toekennings dien ook as erkenning en aanmoediging vir groei en prestasie op die gebied van navorsings- en innovasiebestuur as 'n belangrike instaatsteller van navorsings- en innovasie-uitsette en -impak.

Die Organisational Award for Excellence in Research Management gee erkenning aan 'n organisasie wat as voorloper in navorsings- en innovasiebestuur gereken word en wat oor etlike jare 'n beduidende impak op die uitbouing, aanmoediging en bevordering van navorsing en innovasie binne hul organisasie gehad het. Die kriteria vir nominasie het ook ingesluit dat so 'n organisasie in die oorsigtydperk (2016) inisiatiewe en intervensies moes ontwikkel en implementeer  en dat hulle hul kennis van beste praktyke met die navorsing- en innovasiebestuursgemeenskap moes deel of 'n impak gehad het op die navorsing- en innovasiebestuursemeenskap buite hul eie organisasie.Aasima Award.jpg

Dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie by die Afdeling Navorsingsontwikkeling, het haar dankbaarheid vir die toekenning betuig en gesê: "As 'n span is ons baie bly en voel ons geëerd om hierdie erkenning van ons professionele eweknieë te ontvang. Dit inspireer en versterk die Afdeling Navorsingsontwikkeling se verbintenis om 'n uitstekende professionele ondersteuningsdiens aan ons navorsingsgemeenskap te bied."

By dieselfde geleentheid is me Aasima Gaffoor, ook van die Afdeling Navorsingsontwikkeling, met die Award for Excellence in Early Career Research Management vereer. Hierdie toekenning erken individue wat nuwelinge (minder as 5 jaar in die beroep) is, wat in hul eie organisasie gepresteer het,  wat bygedra het tot verbeteringe in prosesse / stelsels wat verband hou met hul rol binne hul organisasie, wat bygedra het tot die status van die navorsing- of innovasie ondersteuningsfunksie in hul organisasie, en/of betrokke was in die breër navorsing- en innovasiebestuursgemeenskap deur middel van relevante werkswinkels, kursusse, konferensies, en dies meer.

"Ek is bly en voel geëerd om hierdie toekenning te ontvang. Dit dien as goeie motivering om voort te gaan om tot navorsingsbestuur in ons instelling en wyer by te dra. Die voortdurende ondersteuning en goeie leierskap wat deur die Afdeling Navorsingsontwikkeling verskaf word, het my die geleentheid gegee om te groei en daarvoor is ek werklik dankbaar," het Gaffoor gesê.

  • Hooffoto: Dr Therina Theron (middel) neem die Organisational Award for Excellence in Research Management in ontvangs.
  • Foto 1: Me Aasima Gaffoor (middel) met die Award for Excellence in Early Career Research Management. FotograafElena Gaffurini

MEER OOR SARIMA

Die Suider-Afrikaanse Navorsings- en Innovasiebestuursvereniging is 'n belange-organisasie wat in 2002 gestig is en sedertien 'n platform bied vir die bevordering en fasilitering van beste praktyke in navorsings- en innovasiebestuur in Suider-Afrika. Dit versterk die navorsings- en innovasiestelsel om die sosiale en ekonomiese ontwikkeling van die Suider-Afrikaanse streek te verseker. Besoek www.sarima.co.za vir meer inligting.