Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aanvraag na meer gesprekvoering tussen generasies by FGGW Afrika-dag praatjie
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 31/05/2017

​Gesprekvoering tussen verskillende generasies moet as ʼn saak van dringendheid voortgesit word, was die versugting by die Afrikadag-viering van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch.

ʼn Simposium getiteld "Afrika-universiteite – dialoog oor generasies heen rakende dekolonisasie en aktivisme" is op 25 Mei aangebied om die stigting in 1963 van die Organisasie vir Afrika-eenheid, die Afrika-unie se voorloper, te gedenk. Die sprekers het gewissel van kundiges op die gebied van dekolonisasie, hoër onderwys en samewerking op die vasteland tot personeellede en studente-aktiviste.

Prof Uusuf Chikte, Hoof van die Departement Globale Gesondheid aan die FGGW, het die oggend se mistige weer gebruik as analogie vir die aanvanklik wasige visie oor wat ʼn Afrika-universiteit en dekolonisasie behoort te behels  en die wyse waarop aktivisme aangewend behoort te word. Soos die mis geleidelik verdwyn het, het ook hierdie visie duideliker geword.

Prof Elelwani Ramugondo, spesiale adviseur oor transformasie vir die Rektor van die Universiteit van Kaapstad, het daarop gewys dat baie ouers in tradisionele gemeenskappe nie meer ʼn konneksie met hul kinders voel nie en nie kan identifiseer met die manier waarop hulle speel nie. Dit het haar genoop om kinderspeletjies oor die land heen te begin navors – iets oënskynlik onskuldigs, maar vir haar ʼn spieël waardeur die samelewing na homself kan kyk.

Hierdie gebrekkige konneksie is deur die loop van die dag deurgetrek na feitlik alle universiteitsvlakke, met die gepaardgaande versugting dat die nodige ruimtes vir dialoog geskep sal word – nie net tussen generasies nie, maar ook onder tydgenote.

Ramugondo het benadruk dat gesprekvoering binne die dekolonisasieraamwerk moet geskied. Sy het na haarself verwys as ʼn lid van die oorgangsgenerasie – daardie generasie wat te jonk was vir die 1976-opstande, maar te oud is vir die huidige protesaksies by hoëronderwysinstellings en wat vasgevang is tussen twee stryde. Aan die een kant is daar die ouerwordende aktiviste wat waarde heg aan dinge soos ʼn onderhandelde grondwet. Aan die ander kant is daar die jong aktiviste wat nie noodwendig dieselfde daaroor voel nie en wil weet of die ouer aktiviste nie ook maar gekaap is nie.

Ramugondo het jong mense herinner dat aktivisme op sosiale media nie voldoende is nie; daar is werk wat op die grond gedoen moet word.

Van die jong aktiviste, sommige van ander Afrikalande, het vertel dat hulle ʼn onverwelkomende, Westerse kultuur aan die US ervaar, deels weens die demografie van die personeel. Vrae is gevra oor die apatie onder wit studente wanneer dit by protesaksies kom en verdeelheid onder personeel oor wat hulle tydens protesoptrede te doen staan.

ʼn Toekomstige Afrika-universiteit is uitgebeeld as ʼn instelling waar nie net op kennis gefokus word nie, maar wat ook ʼn plek is waar kwelpunte die klaslokaal binnegebring en bespreek word.

Daar was voorts versoeke vir navorsing oor inheemse mediese praktyke sodat tradisionele geneeskunde nie op die periferie bly nie, asook die verpakking van mediese terminologie in ʼn Afrika-konteks ten einde sinvoller hospitaalkonsultasies met sprekers van swart tale te verseker.

Prof Ahmed Bawa, uitvoerende hoof van Universiteite Suid-Afrika, het daarop gewys dat daar eintlik baie min geakkrediteerde universiteite – nagenoeg 620 – in Afrika is. Talle van hulle is boonop baie klein instellings.

Hy het verskeie uitdagings uitgelig, soos dat universiteite in Afrika voortdurend ʼn gebrek aan finansiering het en nie toeganklik is as plekke waar maatskaplike probleme opgelos kan word nie. Taal is ook ʼn kritieke kwessie. "Ons dink nie genoeg daaraan hoekom universiteite in Engels, Frans of Portugees bedryf word nie. Feit bly staan, as Zoeloe, Xhosa en Sotho nie vir akademiese diskoers gebruik word nie, is dit net ʼn kwessie van tyd voor hulle agteruitgaan."

Nog ʼn kritieke vraag is hoe Afrika-universiteite die globale kennissisteem op hul eie terme kan betree. Hier is plaaslike konteks volgens Bawa van groot belang, maar die standaard moet hoog genoeg wees dat dit deel van die globale inhoud kan uitmaak.