Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US ‘n strategiese vennoot in Afrika
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 26/05/2017

​Ter viering van Afrika-dag wat gister (25 Mei) plaasgevind het, dink Nico Elema, bestuurder van die Sentrum vir Samewerking in Afrika (SSA) na oor die noodsaaklikheid van samewerking tussen universiteite om die uitdagings in Afrika aan te pak:

Afrika-dag word jaarliks op 25 Mei gevier en bied ons die ideale geleentheid om opnuut te dink oor hoe die Universiteit Stellenbosch die vele uitdagings van ons kontinent – onder meer hongersnood, siektes, armoede, klimaatsverandering, politieke onstabiliteit, seerowery - kan help oplos.

Dit is algemeen bekend dat hoër onderwys instellings as enjins van innovasie gesien word waar nuwe kennis in diens van die samelewing ontgin word. Maar vir innovasie om werklik 'n sosiale impak te hê, moet instellings onderling en oor grense heen saam werk ten einde oplossings vir hierdie uitdagings uit eie bodem te vind.

Met die herstrukturering van die Nagraadse en Internasionale Kantoor (NGIK) in 2016, is die Sentrum vir Samewerking in Afrika gestig, om institusioneel na die US se Afrika-belange om te sien. Hierdie belange sluit die institusionele bi-laterale ooreenkomste met Afrika vennote, tematiese mobiliteitsprogramme en die ondersteuning aan Afrika inisiatiewe in, wat nie net uit die Universiteit Stellenbosch Internasionaal bedryf word nie, maar ook in die verskillende fakulteite.

Een so 'n inisiatief is ARUA (African Research Universities Alliance), 'n netwerk van 16 Afrika-universiteite, waarvan ons deel is, wat daarop gemik is om navorsing op die kontinent te bevorder. Altesaam 35 US-navorsers doen werk op gebiede soos onder meer voedselsekerheid, die bewaring van water, mobiliteit en migrasie asook armoede en ongelykheid.

Nog 'n voorbeeld van hoe die US innovasie op die kontinent aanmoedig is deur middel van ons Afrika Doktorale Akademie, wat reeds sedert 2010 doktorale opleiding en akademieskap ondersteun en bevorder. Daarmee saam skep programme soos die PANGeA (Afrika se Volgende Generasie Akademici) en  PeriPeriU in Ramp-risiko bestuur, netwerke vir 'n nuwe generasie akademici om gesamentlike navorsing en doktorale programme, veral in die lettere en sosiale wetenskappe, te onderneem. Verder bied die NEPAD SANWATCE ook geleenthede vir ons navorsers om aan waternavorsingsprojekte deel te neem.     

Sedert die AfriNEAD-bewysgebasseerde navorsingsprojek in 2007 in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op die been gebring is, het meer as 18 Afrika-lande hul verbind tot die bevordering van gesprekke oor hoe navorsing oor gestremdheid gebruik kan word om gelykheid en menswaardigheid vir mense met gestremdhede in Afrika te bespoedig.

Hierdie is maar enkele van die vele projekte en programme waarby die US betrokke is. En deur hierdie inisiatiewe en die vrugte wat dit afwerp, versterk ons die boodskap dat Afrika instaat is om haarself te ontwikkel, vir haar mense 'n beter toekoms te skep en 'n volwaardige rolspeler op die internasionale verhoog te wees.