Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opvoedkundige assessering 'n belangrike deel van onderrig en leer
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 22/05/2017

Opvoedkundige assessering by skole en universiteite behoort gesien te word as 'n manier waardeur onderrig en leer kan plaasvind en nie net as ʼn meganisme om leerders en studente te toets nie.

Dít is een van die kernargumente in 'n nuwe boek deur dr Nuraan Davids en prof Yusef Waghid van die Departement Opvoedingbeleidstudie in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Hul boek Education, Assessment, and the Desire for Dissonance is onlangs deur Peter Lang uitgegee.

Dit bevat 10 hoofstukke en fokus op temas soos die mislukking van regeringsstrategieë vir opvoedkundige assessering; die dimensies van mag in pedagogiese verhoudings en assesseringspraktyke; die gebruik van metings en metrieke in Suid-Afrikaanse vorms van assessering; en assesseringsgeleenthede wat beraadslagging insluit.

Die boek kyk breedweg na opvoedkundige assesseringspraktyke in skole en universiteite, en ook hoe dit in Suid-Afrikaanse ervaar word.

Die skrywers sê hulle het die boek die lig laat sien omdat hulle bekommerd was daaroor dat Suid-Afrikaanse skole en universiteite nie ag slaan op idees en praktyke van assessering nie.

Hulle meen dat hoewel pogings aangewend is om weg te beweeg van metings en statistieke, assessering in Suid-Afrika, soos wat internasionaal die geval is, meestal aan kontrole en voorspelbaarheid gekoppel is.

"Assessering word meestal gesien as iets wat bykomend tot onderrig en leer gedoen moet word. So 'n verstaan skep die indruk dat daar nie 'n verband tussen onderrig en leer én assessering is nie," sê Davids.

"Opvoedkundige assessering is essensieel tot onderrig en leer en nie iets wat later bygevoeg moet word ('n nie-regeringspraktyk) soos wat tans die geval is met assesseringspraktyke in Suid-Afrika nie."

Die skrywers sê hulle is bekommerd oor skole, universiteite en die samelewing se verstaan van assesering as iets wat op een of ander wyse gebruik kan word om leerders of studente se prestasie aan te spreek en terselfdertyd as motivering vir leer gebruik kan word.

"Tensy assessering die nodige inligting verskaf om onderrig en leer te verbeter, en mits onderwysers weet hoe om hierdie inligting te analiseer en te gebruik, voeg assessering, soos ons sien in die Jaarlikse Nasionale Assessering of die Nasionale Senior Sertifikaat, geen waarde toe nie."

Hulle voer aan dat dissonansie ʼn antwoord kan wees op gestandaardiseerde "toets"-maatreëls wat nie net die strewe na kreatiwiteit, talent en passies keer nie, maar ook lei tot oppervlakkige en bekrompe pedagogiese interaksies.

Die skrywer meen opvoedkundige assessering kan suksesvol wees indien dit ook erns maak met die idee dat 'n leerder of student nie noodwendig 'n onderwyser se spesifieke assessering van sy of haar werk moet aanvaar nie.

"Die student moet toegelaat word om van die onderwyser te verskil, maar die meningsverskil moet natuurlik op ʼn redelike wyse gemotiveer kan word. Op dieselfde manier kan onderwysers nie net in hul klaskamers terugtrek en punte/assesserings aan studente toeken sonder om met hulle te praat nie."

"Ons is van mening dat dissonansie in opvoedkundige assessering 'n alternatief bied vir assesseringspraktyke wat tans die outonomie van studente en onderwysers aan bande lê."

"As onderrig verstaan word as iets wat studente rig op die onbekende en wat nog verstaan moet word, moet assessering die potensiaal bied vir 'n bevraagtekening van die onbekende en dit wat nog verstaan moet word."

Die skrywers sê hulle erken dat assessering 'n komplekse en veeleisende interaksie is en dat dit verskillende dinge vir onderwysers, leerders of studente beteken.

"Omdat assessering kompleks en veeleisend is, is dit iets wat mense saam moet doen. Na ons mening behoort opvoedkundige assessering bevorder te word deur 'n begeerte om dinge anders te doen."

In die verband stel hulle 'n assessering binne onderrig voor in teenstelling met assessering van leer en 'n assessering vir leer.

"Assessering binne onderrig en leer plaas die verantwoordelikheid op beide onderwysers en leerders of studente om die praktyk te oorweeg as iets wat in samewerking met ander gedoen word. So 'n siening verskil van tradisionele opvattings waarvolgens dinge vir ander mense gedoen moet word. Dit sou beteken dat assessering as 'n ontmoeting beskou moet word."

Die skrywers voeg by dat hierdie tipe assessering impliseer dat onderwysers en studente teenwoordig is in pedagogiese verhoudings waar betekenis en werksaamhede in hul  teenwoordigheid uitgevoer.

"Onderwysers en leeders is of het die potensiaal om mekaar se pedagogiese gelyke te wees."

Die skrywers sê akademici, opvoedkundige praktisyns, beleidsontleders, studente en onderwysers behoort by hul boek aanklank te vind.

  • Education, Assessment, and the Desire for Dissonance is beskikbaar by www.peterlang.com en ander aanlyn boekwinkels.

Foto: Dr Nuraan Davids en prof Yusef Waghid met 'n kopie van hul nuwe boek.