Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die omgewingskoste van skaliegas en sonkragontwikkeling
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 18/05/2017

Die Minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane, het onlangs die groen lig gegee vir die ontginning van skaliegas in die Karoo-streek, en gesê dit sal die ekonomie van die Noord-Kaap ʼn hupstoot gee. Maar hoewel skaliegasontwikkeling nog in die toekoms lê, word daar reeds vrae gevra oor die moontlike impak hiervan op die omgewing.

Sekere groepe is veral bekommerd oor die kumulatiewe impak van toekomstige skalie-eksplorasies en sonkragontwikkeling in die land se droë streke, insluitend die Karoo.

"Hierdie gebiede is grootliks onderontwikkeld in terme van die land se energiesisteem en is ook teikens vir toekomstige sonkrag- en skaliegasplanne. Vanuit 'n ekologiese oogpunt laat dit die vraag ontstaan watter nuwe impakte verwag kan word en hoe hierdie impakte bestuur en verminder kan word," sê Justine Rudman, wat onlangs haar Meestersgraad in Bewaringsekologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het. Rudman werk tans in haar tuisdorp Steytlerville in die Oos-Kaap as ʼn navorsingsassistent vir 'n navorsingsgroep vir Volhoubare Sisteme wat in die US se Departement Bedryfsingenieurswese gesetel is.

As deel van haar navorsing het Rudman probeer om die direkte omgewingsimpakte van nuwe sonkrag- en skaliegasontwikkelings in droë gebiede te identifiseer. Sy wou ook vasstel hoe hierdie impakte in die toekoms kan verander wanneer ontwikkeling toeneem.

Naas onderhoude met sekere kundiges wat oor genoegsame ondervinding en kennis beskik, het Rudman ruimtelike data ontleed. Sy het ook sonkragaanlegte besoek om 'n beter begrip te verkry van die impak en bestuur van sonkragontwikkeling by dié fasiliteite.

Rudman sê haar studie het getoon skaliegaseksplorasie sal na verwagting 'n impak hê op die gehalte van en die aantal waterhulpbronne.Justine_bwprofile.jpg

"Die risiko verbonde aan die impak op waterhulpbronne word beklemtoon deur verskeie onbekende faktore soos die waterbron vir hidrouliese breking, waterhulpbronne in die droë Karoo-omgewing wat reeds onder druk is, en beperkte inligting oor diep grondwaterbronne."

"Na verwagting sal hierdie impakte in terme van ernstigheidsgraad  en geografiese verspreiding aansienlik vermeerder gedurende die produksiefase nadat die area bo en rondom boorgate vasgestel is."

"Ander omgewingsimpakte soos dié oor luggehalte en die skep van afval sal na verwagting toeneem ongeag die spesifieke ligging van gebiede wat vir ontwikkeling gekies is."

Rudman voeg by dat skaliegaseksplorasies ook addisionele infrastruktuur soos pypleidings, paaie en fasiliteite vir die verwerking van afval benodig. Sy sê dit kan lei tot verdere impakte waarvoor moeilik  beplan kan word sonder beskikbare inligting oor die basislyntoestande van die omgewing wat geraak gaan word.

Rudman wys daarop dat sewe groot rivieropvangsgebiede binne die gebied vir skaliegaseksplorasie val. Die Nama-Karoo, 'n gebied waaroor daar min biodiversiteitsdata beskikbaar is, word die ergste geraak deur skaliegasontwikkeling en maak ongeveer 68% van sulke eksplorasies uit.

"Wat die impak van sonkragontwikkeling betref, het my navorsing getoon dat daar veral groot besorgdheid is oor die impak op voëls in die omgewing en habitatsverandering," sê Rudman.

"My studie het ook bevind dat die ernstigheidsgraad van die impakte verbonde aan sonkrag die hoogste is tydens die konstruksiefase wat ongeveer 10% van 'n kragsentrale se leeftyd verteenwoordig."

Sy voeg by dat hoewel die impak op voëllewe 'n groot rede tot kommer is, moet moniteringsdata eers versamel word om die werklike impak te bepaal.

Volgens Rudman is die voetspoor van huidige sonkragontwikkeling relatief laag en selfs by 100% toewysing van die kapasiteit wat in die jongste 2030-plan aangedui word, is die gekombineerde getransformeerde voetspoor minder as 2% binne die studiegebied.

"Hierdie bevinding beklemtoon die belangrikheid van behoorlike lokalisering van projekte en die deeglike implementering van omgewingsbestuursplanne om die impak tot hierdie taamlik geringe voetspoor te beperk."

Rudman sê terwyl die huidige Omgewingsimpakstudie (oftewel, Environmental Impact Assessment) by individuele sonkragaanlegte voldoende blyk te wees, is daar kommer oor die implementering van die proses deur bevoegde maatskappye, sowel as 'n leemte in die beplanning vir die kumulatiewe impakte wat moontlik uit veelvuldige projekte kan voortspruit.

"Huidige beleid en beplanning is besonder swak om rekenskap gee van sulke wydverspreide impakte wat voortspruit uit verskeie sonkragaanlegte of areas vir skaliegas."

Rudman voeg by dat die bevindinge van haar studie waardevol sal wees vir die huidige omgewingsimpakstudie en bestuursprosesse.

  • Hooffoto: Pixabay
  • Foto 1: Justine Rudman 

SLEGS VIR MEDIA NAVRAE

Justine Rudman

Navorsingsgroep vir Volhoubare Sisteme

Departement Bedryfsingenieurswese

Universiteit Stellenbosch

Sel: 072 822 4304

E-pos: justine@sun.ac.za