Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hart-beurs gee miokarditis-navorsing ʼn hupstoot
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 18/05/2017

​Dr Riëtte du Toit se voortgesette belangstelling in kardiologiese manifestasies in rumatologie is onlangs erken toe sy as wenner van die Suid-Afrikaanse Hartvereniging (SA Heart) se prestigeryke 2016-navorsingstoekenning aangewys is.

"Ek vind die veld geweldig interessant, maar ook uitdagend. Ons pak chroniese siektes aan wat weens die deregulering van die immuunstelsel probleme in potensieel elke orgaan in die liggaam veroorsaak, soms met noodlottige gevolge vir jong individue," verduidelik Du Toit. Sy is 'n konsultant wat aan die Afdeling Rumatologie van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidwetenskappe verbonde is.

Sy het 'n toekenning ter waarde van R50 000 ontvang, wat aangewend sal word vir haar PhD-navorsing op dié spesialisgebied. Haar navorsing teiken diagnostiese eienskappe en uitkomste van hartdisfunksie en is gemik op die diagnose van lupus-verwante miokarditis (LM). Dit is 'n toestand wat sowat 5-10% van pasiënte met sistemiese lupus eritematose (SLE) raak.

"Tans is 'n MRI-skandering van die hart die diagnostiese instrument van voorkeur om kliniese en subkliniese siektes te bespeur. Dit is egter duur en nie altyd vrylik beskikbaar of prakties vir gebruik by onstabiele pasiënte nie. Daarteenoor is eggokardiografie (ultraklanke) kostedoeltreffend, toeganklik en kan by die pasiënt se bed toegepas word. Die optimale gebruik van dié tegniek in LM is nog nie bepaal nie," sê sy.

"Ek hoop om die gebruik van eggokardiografie as 'n akkurate en kostedoeltreffende instrument vir die diagnose van LM beter te definieer, veral in 'n omgewing waar min hulpbronne beskikbaar is."

Die SA Heart-toekenning word jaarliks aan slegs een kandidaat toegewys en Du Toit is dankbaar vir die vereniging se groot toewyding tot die bevordering van doktorale studies in Suid-Afrika. Sy meen dit lewer 'n betekenisvolle bydrae tot haar studies en dra terselfdertyd by tot die US se navorsingsuitsette, asook tot die nasionale en internasionale kennispoel.

Volgens haar sal die verwerwing van haar PhD, asook die joernaalpublikasies wat daaruit sal voortspruit, tot haar professionele ontwikkeling in die veld van rumatologie bydra.

Du Toit sê haar passie, selfs as algemene internis, was nog altyd die kardiologiese manifestasie van siektes. "Dit was kliniese ervarings met ons eie lupus-pasiënte wat my gemotiveer het om hierdie onderwerp verder te bestudeer." Sy hoop haar navorsing sal uiteindelik tot die vroeër diagnose en doeltreffender behandeling van dié pasiënte bydra.

Onderskrif: Dr Riëtte du Toit het die SA Hartvereniging se navorsingstoekenning vir 2016 ontvang.