Die aanstelling van Desmond Crowie as die afrigter van die Maties-sokkerklub is die begin van 'n nuwe hoofstuk vir die Universiteit Stellenbosch (US) se span.
Crowie is die voormalige afrigter van Milano United, 'n sokkerklub in Grassy Park wat in die nasionale eerste divisie deelneem. Hy is al die afgelope 22 jaar 'n afrigter en het ook vir nege jaar gespeel.
"Dit is 'n nuwe hoofstuk in my loopbaan as afrigter, iets heeltemal anders as waaraan ek gewoond is. Die uitdaging in sy geheel maak my baie opgewonde," het Crowie gesê.
Hy beskryf homself as 'n pragmatiese afrigter. "Ek kan aanpas by die spelers tot my beskikking. Ek verstaan die spelers oor die algemeen goed en kan hulle laat insien wat belangrik is – nie net wat sokker betref nie, maar ook in die lewe."
Crowie het groot doelwitte vir die Maties-klub. Hy sal fokus op die ontwikkeling van 'n groep spelers om mee te werk en wil 'n wenmentaliteit skep. Hy wil ook strukture skep vir toekomstige deelname aan die Varsity Sport-sokkerreeks, werwingstrukture implementeer en verseker dat die span mededingend is by die jaarlikse USSA-kompetisie.
Hy weet dit sal nie maklik wees nie en dat groot uitdagings vir hom wag.
"Ek moet die mentaliteit van die sport-/sokkergemeenskap by Maties verander. Ons moet wys dat sokker een van die topsportkodes kan wees as die nodige strukture in plek is. Die verkenningsnetwerk op en van die kampus af moet verbeter om meer sokkerspelers na die universiteit te lok."
Ten spyte van al die uitdagings is hy baie opgewonde oor wat die toekoms inhou.
"Om iets van nuuts af te bou en 'n grondslag te lê, maak my opgewonde. Sodra die grondslag gelê is, kan wen 'n gewoonte word. Kortermyn-sukses maak my nie opgewonde nie; dit is belangrik om iets wat blywend is, te skep."