Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tygerberg-biblioteek kry nuwe hoof – én nuwe baadjie
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 16/05/2017

​Van musiek na agriwetenskap en uiteindelik geneeskunde is die loopbaanpad wat Yusuf Ras oor bykans 25 jaar geloop het.

As bibliotekaris aan die Universiteit Stellenbosch (US) het hy oor die jare vele studente op die regte navorsingspad gehelp. Terselfdertyd het hy saans en oor naweke tyd afgeknyp om aan sy eie studies aandag te gee.

Op 1 Februarie vanjaar – "gewapen" met ʼn honneursgraad in biblioteekkunde en ʼn nagraadse bestuursdiploma – het Ras (44) as biblioteekhoof van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) op die Tygerberg-kampus ingeval. Sy koms val saam met ʼn vernuwingsprojek van sy werkplek wat einde vanjaar afgehandel behoort te wees. Daarmee word wegbeweeg van die tradisionele biblioteekkonsep deurdat dit nie meer net as inligtingshulpbron dien nie, maar ook as lewendige ruimte waar studente idees uitruil.

Ras is, nes sy vrou, Charmeez, ʼn gebore en getoë Stellenbosser. Sy verbintenis met die US het in 1993 begin toe hy, nadat hy aan die Hoërskool Cloetesville gematrikuleer het, as assistent in die musiekbiblioteek op die hoofkampus aangestel is.

Danksy finansiële hulp van die US kon hy homself buitemuurs verder bekwaam. Hy het aanvanklik ʼn biblioteekdiploma aan die destydse Technikon SA verwerf. Met dié technikon se samesmelting met Unisa is hierdie diploma egter uitgefaseer en moes hy dit noodgedwonge met ʼn BA-graad opvolg.

Dit was ʼn lang studiepad en nie aldag maklik om al die balle in die lug te hou nie, veral nadat hy pa geword het van Nehan (nou 11). Maar, sê Ras – wat daarna ook sy honneurs gedoen het – "mens moet op die groter prentjie bly fokus".

Sy eerste groot loopbaansprong was in 2009 na junior bibliotekaris. In 2010 is hy as fakulteitsbibliotekaris by Agriwetenskappe aangestel en na die JS Gericke-hoofbiblioteek verplaas. Hy het nou met nege departemente pleks van een te doen gehad.

In 2012 het die kans hom voorgedoen om oor etlike maande biblioteke in Amerika te besoek. Sedertdien het hy ook ʼn nagraadse diploma aan die US Bestuurskool voltooi.

"Die moderne student het ander behoeftes as 20 jaar gelede," benadruk Ras. Die fokus is op elektroniese bronne, met inligting 24/7 beskikbaar, en minder gedrukte boeke en joernale.

Die keersy is dat onderrig en leer deesdae vereis dat studente baie nouer saamwerk. Daarom word stil biblioteekareas tans aangevul met tegnologies gevorderde en stimulerende leersentrums soos seminaarkamers, waar studente in groepe kennis kan uitruil.

ʼn Verdere fokuspunt is navorsingsondersteuning. "Die US het sy strategiese rigting en denke verander en is nou ʼn intensiewe navorsingsinstelling. Aan biblioteekkant word gekyk hoe die universiteit wat betref verhoogde navorsingsuitsette gesteun kan word," verduidelik Ras. "Dis belangrik dat navorsers die regte inligting kry, maar ook dat ons hulle help om in gerekende joernale te publiseer – wat tot hoër aansien én groter regeringsubsidies lei."

Navorsingdata moet natuurlik bestuur word. "Met die tegnologiese vooruitgang word massas data gegenereer. Die biblioteek speel ʼn spesifieke rol deur beskikbare data veilig te berg, maar dit terselfdertyd vir volgende navorsers toeganklik te maak sodat daarop voortgebou kan word. Die wiel moet nie herontwerp word nie," sê Ras, wat tans besig is met sy meestersgraad in sosio-informatika, oftewel die impak van tegnologie op die hedendaagse samelewing.

Onderskrif: Yusuf Ras is die nuwe hoof van die Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe Biblioteek.