Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektor skors studente betrokke by plakkaat-voorval
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 09/05/2017

Opdatering: 11 Mei 2017

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), het besluit om drie studente wat verbind word met die Nazi-agtige plakkate op kampus, voorlopig te skors (suspend). 'n Dissiplinêre proses word nou gevolg.

Die voorval is deur die Eenheid vir Gelykwaardigheid ondersoek, wat aanbevelings aan die Universiteit se Sentrale Dissiplinêre Komitee (SDK) en Bestuur gemaak het. Die saak is nou ʼn dissiplinêre aangeleentheid.

"Die SDK sal in sy hantering van hierdie saak oor die skorsings en verdere stappe besluit. Die saak word as prioriteit beskou, en moet toegelaat word om sy loop te neem," het prof De Villiers gesê

"Toe ons aandag Dinsdag (9 Mei 2017) op die voorval gevestig is, het sowel die Bestuur as die Studenteraad dit dadelik duidelik gemaak dat ons rassisme en rasse-meerderwaardigheid ten sterkste veroordeel."

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid het gerapporteer dat die plakkate en geadverteerde geleentheid rassepolarisasie/ -superioriteit bevorder, en dat dit – tesame met hoogs aanstootlike verwysings na Nazi-propaganda en neo-Nazisme – in stryd is met die US se Beleid oor Onbillike Diskriminasie en Teistering. Daar is bevind dat die gedrag en optrede van die betrokke studente 'n vernederende uitwerking gehad en ’n intimiderende omgewing by die US geskep het.

"Die US werk hard daaraan om ʼn inklusiewe en diverse instelling te wees. Die lokaalbespreking vir die beplande byeenkoms is nie deur die Universiteit goedgekeur nie, en ons het geen inligting daaroor gehad voordat die plakkate vertoon is nie – sonder toestemming. Toe die saak onder ons aandag gebring is, is Kampussekuriteit gevra om die plakkate te verwyder. Ons sal voortgaan om rassisme en onbillike diskriminasie te bestry, en menseregte, gelykheid, menswaardigheid en demokrasie te bevorder. Dit doen ons aan die hand van ons eie beleidsdokumente, asook ons verbintenis tot die Grondwet van Suid-Afrika en die Handves van Regte wat daarin vervat is."

 

10 Mei 2017: Persone betrokke by die "Nazi-plakkate" geïdentifiseer

Die Universiteit Stellenbosch (US) het tot dusver drie persone wat verbind word met die beplanning van die "Anglo-Afrikaner Student"-geleentheid en die gepaardgaande plakkate wat op die Stellenbosch-kampus verskyn het, geïdentifiseer. Die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid, met ondersteuning van die personeel by die Afdeling Studentedissipline, lei die ondersoek.

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid het verskeie klagtes ontvang en gevolglik 'n ondersoek begin ingevolge die beginsels van die US se Beleid oor Onregverdige Diskrimminasie. Die geïdentifiseerde persone word tans ondervra. Op grond van die ondersoek en die verklarings van die studente sal die Eenheid vir Gelykwaardigheid aanbevelings vir verdere stappe maak.

"Die plakkate en die geadverteerde geleentheid wat rasse-polarisering en -meerderwaardigheid aanmoedig en uiters aanstootlike verwysings na Nazi-propaganda en neo-Nazisme insluit, is totaal onaanvaarbaar. Gegewe die waardes van die US en die Suid-Afrikaanse Grondwet kan ons nie sieninge, geleenthede, bemarkingsveldtogte of sinspelings wat ons inherente gelykheid as mense ondermyn, duld nie," het mnr Jaco Greeff Brink, Hoof van die Eenheid gesê.

Die US Bestuur het 'n beroep op die kampusgemeenskap  gedoen om die ondersoek en daaropvolgende prosesse hul loop te laat neem. Ons personeellede in die relevante eenhede gee tans prioriteit aan die voorval. Die bevindinge en daaropvolgende stappe, sal aan die kampusgemeenskap gekommunikeer word.

Die US het beklemtoon dat dit rassisme, rasse-meerderwaardigheid en enige poging om die kampusgemeenskap te verdeel ten sterkste veroordeel, en sal geen geleentheid wat rasse-meerderwaardigheid probeer bevorder op kampus toelaat nie. Plakkate wat sonder die toestemming van die Universiteit opgesit is, en wat 'n lokaal adverteer vir 'n vergadering wat nie bespreek was nie, is gister verwyder.

Die US het Dinsdag bevestig dat dit slegs 'n navraag ontvang het rakende die beskikbaarheid van die lokaal, maar dat geen amptelike bespreking plaasgevind het teen die tyd wat die plakkate vertoon was nie. Geen inligting oor die geleentheid was op daardie stadium verskaf nie.

"Die boodskappe van die plakkate is nie net onaanvaarbaar nie, dit is ook strydig met die US se waardes. Dit wil voorkom asof daar moedswillige kwaadstokery betrokke is, en indien dit die geval sou wees, sal dissiplinêre stappe geneem word," het Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, gister gesê.


9 Mei 2017: Die US veroordeel plakaat wat rasse-konflik aanhits

​Die Universiteit Stellenbosch (US), die US Biblioteek- en Inligtingsdiens asook die Studenteraad veroordeel rassisme, rasse-meerderwaardigheid en enige poging om ons kampusgemeenskap te verdeel ten sterkste en sal geen geleentheid wat rasse-meerderwaardigheid probeer bevorder op kampus toelaat nie.   

Dit volg nadat die US laat gisteroggend (9 Mei) kennis geneem het van plakkate op kampus wat 'n geleentheid van die "Anglo-Afrikaner Student" adverteer. Volgens die plakkaat is die geleentheid geskeduleer vir Donderdag, 11 Mei om 17:00 in die Ouditorium van die JS Gericke-biblioteek. Dié plakkate is op kampus aangebring sonder die medewete of toestemming van die Universiteit, die Biblioteek of die SR.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het gesê die boodskappe van die plakkate is nie net onaanvaarbaar nie, dit is ook strydig met die US se waardes. "Dit wil voorkom asof daar moedswillige kwaadstokery betrokke is, en indien dit die geval sou wees, sal dissiplinêre stappe geneem word." 

Die voorval word ondersoek terwyl die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid ook daarvan in kennis gestel is. 

Die US wil graag beklemtoon dat slegs 'n navraag ontvang is rakende die beskikbaarheid van die lokaal, maar dat geen amptelike bespreking plaasgevind het teen die tyd wat die plakkate vertoon was nie. Geen inligting oor die geleentheid is verskaf nie.

In hierdie stadium is die oorsprong van die plakkate onduidelik, maar die Universiteit is besig om inligting wat oor die organiseerders ontvang is, op te volg.

  • Enige student of personeellid met meer inligting word versoek om onmiddellik die Kliëntediens-sentrum by 021 808 9111 te skakel, of 'n e-pos te stuur na info@sun.ac.za.  

LEES die Studenteraad se verklaring hier: www.facebook.com/stelsrc