Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorsers lê PhD’s op wêreldverhoog voor
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 04/05/2017

​Kliniese vaardighede en fisiologiese kennis is nie die enigste eienskappe wat goeie dokters maak nie. Twee nadoktorale personeellede van die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys (SGBO) aan die Universiteit Stellensbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gaan hul navorsing oor hierdie kwessie binnekort op 'n internasionale verhoog voorlê.

Drs Lakshini McNamee en Elize Archer is albei by Gesondheidsberoepe-onderwysnavorsing betrokke en is twee van die slegs 14 doktorale gegradueerdes wat gekies is om hul studiebevindinge voor te lê tydens die kongres van die Vereniging vir Mediese Onderwys in Europa (AMEE), wat in Augustus in Helsinki plaasvind. AMEE is 'n jaarlikse geleentheid wat verteenwoordigers van sowat 90 lande rondom verskeie temas in dié veld byeenbring.

Archer se navorsing fokus op pasiëntgesentreerde sorg en bied insig in die oordrag en aanleer van dié vaardigheid.

"Kommunikasievaardighede word dikwels as 'sagte vaardighede' bestempel. Dié siening moet egter herbesoek word. Ons moet dit eerder as 'harde vaardighede' begin bestempel, omdat dit deurslaggewend vir pasiënt-tevredenheid én die gesondheidswerker se gemoedstemming en werksbevrediging is," meen sy.

"Navorsing dui daarop dat die vooruitgang van wetenskap en behandelingsopsies meebring dat dokters soms meer op die biomediese aspekte van die siekte as op die pasiënt self fokus. Studies toon ook dat studente aan die einde van hul mediese studies minder pasiëntgesentreerd is as toe hulle ingeskryf het." Archer meen dít is rede tot kommer wat die voorgraadse mediese kurrikulum sowel as dienste aan pasiënte betref.

Haar doelwit is om betrokke te raak by die kurrikuluminisiatiewe en die Fakulteit se ontwikkelingsinisiatiewe rondom kommunikasievaardighede. "Ek sal graag saam met dosente wil werk om 'n rolmodel-leerstyl doelbewus aan te wend. Studente moet tegelyk aangemoedig word om 'n denkende benadering te volg wanneer hulle besluit watter gedrag van rolmodelle navolgenswaardig is."

McNamee het ook 'n ywerige belangstelling in die ontwikkeling van "goeie" dokters. Sy gaan haar navorsing oor mediese internskap-ervarings van pas gekwalifiseerde dokters in Suid-Afrika by die konferensie voorlê en spesifiek fokus op hoe nuwe dokters hul leerervarings verwerk en hul identiteit as mediese praktisyns vorm. "Gesondheidstelsels is afhanklik van nuwe dokters om 'n diens te verskaf, veral in die openbare sektor, maar min teorieë bestaan oor hoe hulle hul belewenisse ervaar," verduidelik sy.

Haar studie ondersoek interpersoonlike netwerke en verhoudings sowel as dié met verskeie organisasies. Volgens haar speel dié komponente ʼn sleutelrol in die wyse waarop nuwe dokters leer en hul identiteit vorm.

Sy hoop haar voorlegging by AMEE sal 'n beter benadering tot die organisering van mediese internskappe teweeg bring. "Wedersydse erkenning oor die belangrikheid hiervan deur nuwe dokters sowel as bestuurders in die gesondheidsorgstelsel is nodig om dié doel te bereik."

McNamee en Archer is albei opgewonde oor die vooruitsig van die kongres. "Dit is 'n wonderlike geleentheid om opvoeders en navorsers met dieselfde belangstellings te ontmoet, veral dié wat die waarde van die gebruik van navorsingmetodes uit die sosiale en geesteswetenskappe in mediese onderwys erken," sê McNamee.

Archer stem saam. "Omdat die mededinging so straf is, kon ek vantevore slegs plakkate voorlê. Die geleentheid om 'n PhD-verslag voor te dra is 'n baie groot voorreg. Ek hoop om verdere kontakte op te bou en moontlik individue vir toekomstige samewerking te identifiseer."

Onderskrif: Drs Lakshini McNamee en Elize Archer van die SGBO gaan hulle doktorale navorsing voorlê tydens die kongres van die Vereniging vir Mediese Onderwys in Europa (AMEE), wat in Augustus in Helsinki plaasvind.