Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-spelers aangewys as beste in Varsitybeker-toernooi
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 19/04/2017

Agter die wolke skyn tog die son en vir die Maties-rugbyspan is dit die individuele toekennings wat Kobus van Dyk en Craig Barry vir hul spel in vanjaar se Varsitybeker-reeks ontvang het.

Maties het Maandag in die eindstryd van hierdie kompetisie vasgeval toe hulle in Pretoria met 21-28 teen UP-Tuks verloor het.

Ná die wedstryd is Van Dyk egter nie net as die Speler van die Toernooi nie, maar ook as die beste voorspeler van die kompetisie aangewys. Barry, Maties se kaptein, is as die beste agterspeler gekroon.

Die duo is saam met Duncan Saal ook in die Varsitybeker-toernooispan ingesluit wat Dinsdag (25 April) in die Danie Craven-stadion teen die Junior Springbokke sal uitdraf. Daar is ook drie Maties op die plaasvervangerbank. Hulle is Ernst Stapelberg, Michal Haznar en Johan Momsen.

Hoewel die spelers baie teleurgesteld is, het Barry dit duidelik gemaak dat die nederlaag nie die goeie dinge wat die afgelope paar maande gebeur het, ongedaan kan maak nie.

"Die toernooi was eintlik 'n reuse-sukses gewees. Verskeie spelers het die geleentheid gekry om hulself te bewys. Dit is natuurlik nie die einde waarvoor ons gewerk of beplan het nie, maar daar is baie positiewe aspekte wat ons uit die toernooi kan neem. Ons as span word nie gedefinieer deur die nederlaag nie, maar deur die gesamentlike poging wat ons almal ingesit het in aanloop tot en met die verloop van die toernooi," het Barry gesê.

Dit was Barry se laaste Varsitybeker-reeks. Hy is met 42 wedstryde die speler wat die meeste verskynings al ooit in die reeks gemaak het en met sy 16 drieë – nege in vanjaar se kompetisie – ook die kompetisie se voorste driedrukker.

Maties se Mej Varsitybeker-finalis, Lethukwenama Letsoalo, is as eerste prinses gekroon. Die kompetisie is gewen deur die Universiteit van Pretoria se Gizelle Venske.