Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale erkenning vir US wiskundige
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 19/04/2017

Prof. JAC (André) Weideman van die Universiteit Stellenbosch (US) is een van 28  merkwaardige wiskundiges van regoor die wêreld wat tot Genoot van SIAM (Society of Industrial and Applied Mathematics) verkies is.

Die 2017 groep is verkies op grond van hul navolgingswaardige en uitstaande diens tot die gemeenskap in die vakgebiede van toegepaste wiskunde en berekeningswetenskap. Prof. Weideman het erkenning ontvang vir sy "kragtige en elegante numeriese algoritmes gebaseer op komplekse analise". Sy werk op die berekening van integraaltransforms soos die Laplace en Hilbert transforms, en die berekening van spesiale funksies soos die plasma dispersie funksie, het een van die maatstawwe geword waarteen nuwe algoritmes getoets word.

SIAM word gereken as een van die wêreld se leidinggewende organisasies in toegepaste wiskunde en om as 'n genoot verkies te word is 'n groot eer.

Prof. Weideman het in 1986 'n doktorsgraad in toegepaste wiskunde by die Universiteit van die Oranje Vrystaat onder leiding van Prof. Ben Herbst verwerf, waarna hy by die Staatsuniversiteit van Oregon in die VSA gaan klasgee het. In 1999 het hy na Suid-Afrika teruggekeer om 'n professoraat in toegepaste wiskunde by die US op te neem. Gedurende sy loopbaan van bykans 30 jaar het hy meer as 40 navorsingsartikels in van die beste vaktydskrifte in toegepaste en numeriese analise gepubliseer, waaronder SIAM Review, Physica D, Foundations of Computational Mathematics, Journal of Computational Physics, Mathematics of Computation, Numerische Mathematik en Journal of Approximation Theory.

Dit is veral merkwaardig dat sewe van sy navorsingsartikels elk meer as 100 keer aangehaal is, terwyl 'n 2002 artikel wat hy saam met SC Reddy geskryf het, naamlik  "A MATLAB differentiation matrix suite", meer as 600 keer aangehaal is.  Hierdie sagteware stel navorsers in staat om 'n verskeidenheid van probleme in gebiede soos vloeimeganika en kwantum-meganika op te los.

In 2015 is prof. Weideman uitgenooi om as hoofspreker op te tree tydens die New Directions in Numerical Computation Conference by Oxford Universiteit en in 2016 ook as hoofspreker tydens die vierde Dolomites Workshop on Constructive Approximation and Applications wat by die Universiteit van Verona in Italië aangebied is. In beide gevalle het hy die podium gedeel met verskeie hoogaangeskrewe wiskundiges.

Prof. Ingrid Rewitzky, hoof van die US se Departement Wiskundige Wetenskappe, het prof. Weideman gelukgewens met hierdie welverdiende erkenning vir sy uitstaande navorsingsbydra tot die vakgebied.

Die SIAM Genote sal tydens die jaarvergadering van die vereniging vir hul prestasies vereer word. Dié vergadering vind vanaf 10 tot 14 Julie 2017 in Pittsburgh in die VSA plaas.

Op die foto bo, Prof. JAC (André) Weideman. Fotograaf: Nick Hale