Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oriënteringsessie oor sosiale impak
Outeur: Joanne Williams
Gepubliseer: 19/04/2017

Die Afdeling Sosiale Impak het onlangs ʼn oriënteringsessie vir nuwe personeellede aangebied. Die sessie het ʼn oorsig van die Universiteit Stellenbosch se strategie rakende sosiale impak en ondersteuningstrukture gegee, en aanbiedings is deur voorvegters vir sosiale impak gelewer.

Dr Antoinette Smith-Tolken, hoof van Sosiale Impak, het beklemtoon dat die huidige fokus op sosiale impak gemeenskapsinteraksie insluit, maar dat dit breër en dieper gaan. Sosiale impak fokus nou nie net meer op die burgerlike samelewing nie, maar ook op die regering, bedrywe en besighede asook die samelewing as ʼn geheel. "Sosiale impak is ʼn oorkruisende strategiese prioriteit wat deur leer en onderrig, navorsing en aktiewe burgerskap plaasvind. Ons beweeg tans verder as uitkomste na volhoubare praktyke en impak," sê sy.

Rhoda Malgas, dosent en navorser by die Departement Bewaringsekologie, het kwessies geopper rakende wie se kennis in die samelewing geld en gepraat oor hoe waarde aan kennis geheg word. Sy het vertel dat hulle in hul navorsingspraktyk fokus op boer-gedrewe navorsing, eerder as op dít wat in die literatuur voorkom. Hulle gee ook erkenning aan die netwerke, bates, inligting en kommunikasienetwerke wat in gemeenskappe bestaan. "Gemeenskapslede gee terugvoering oor hul waarnemings tydens proefnemings en studente gee deurlopend terugvoering aan die gemeenskap en sluit die gemeenskap se terugvoering by hul bevindinge in," sê sy. Me Malgas het verder die belangrikheid beklemtoon om studente by die politieke landskap te betrek, sodat hulle eendag as bewaringsentomologie-praktisyns ingeligte besluite kan neem om voedselsekuriteit vir die toekoms te verseker. "Studente is gretig om praktyke rakende sosiale impak in hul werk uit te brei nadat hulle gegradueer het," sê sy. 

Faika Haroum, ʼn personeellid by die Taalsentrum, het deur die Amazing Reading Race Mandeladag-inisiatief by die Universiteit in 2016 as ʼn aktiewe burger by sosiale impak betrokke geraak. Sy voel dat daar ʼn fokus op wiskunde en wetenskap is, maar dat leerder se leesvermoëns eers ontwikkel moet word. "Dit is hoe ons met die idee vir die Amazing Reading Race vorendag gekom het. Die resies is ʼn akademiese resies, waarin die belangrikheid van lees beklemtoon word," sê sy. Ter opvolging van die leesresies voer hulle leesplasingstoetse by ʼn paar skole uit, en die volgende stap is om terugvoering aan die skole oor die assesserings te gee en werkswinkels met die opvoeders oor leesstrategieë te hou. Die plan is om die impak op leerders oor ʼn driejaar-tydperk te monitor. Wat as ʼn Mandeladag-inisiatief begin het, het ʼn volledige projek oor sosiale impak geword. 

Volgens Nadine Bowers-du Toit, senior dosent in Praktiese Teologie, het kerke ʼn impak op die samelewing met betrekking tot armoede, ongelykheid en geregtigheid. "Betrokke vakkundigheid gaan daaroor om ʼn openbare intellektueel in die kennisekonomie te wees. Sosiale impak het die manier waarop ek onderrig, beïnvloed deur my die manier waarop dit ʼn impak op werklike kwessies het, te laat bevraagteken," sê sy. Sy het verder die Diensleer-kursus aanbeveel wat deur die Afdeling Sosiale Impak aangebied word, aangesien dit haar geleer het om strategies na te dink oor die manier waarop sy haar kursus struktureer. Sy het voorts ander personeel aangeraai om hul navorsing in die klaskamer te deel sodat studente uit die ervaring en foute van hul dosente kan leer, en ook die belangrikheid van die vorming van netwerke beklemtoon.