Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stamselnavorsing kry ‘hupstoot’ van NNR
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 13/04/2017

​Stamselnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het onlangs 'n groot hupstoot ontvang in die vorm van R1,93 miljoen se befondsing wat aan Dr Mari van de Vyver van die Afdeling Endokrinologie toegeken is.

Die toekenning is deur die Nasionale Navorsingsraad (NNR) gemaak en sal oor 'n tydperk van drie jaar (2017-2019) aangewend word vir navorsing oor die verandering in stamselfunksie en die verwantskap op belemmerde wondgenesing in diabetiese pasiënte. Die geld sal toegewys word aan navorsingkostes (65%), nadoktorale deelgenootskappe (23%) en nagraadse beurse (12%).

Dr Van de Vyver, wat haarself beskryf as "steeds baie vroeg" in haar loopbaan, sê sy voel geëerd om dié aansienlike bedrag te ontvang vir haar projek en is dankbaar vir die volgehoue ondersteuning wat sy ontvang van die FGGW. Sy sal die projek in samewerking met Prof Kathy Myburgh (Departement Fisiologiese Wetenskappe, US) en Prof Carola Niesler van die Skool van Lewenswetenskappe aan die Universiteit van KwaZulu-Natal aanpak.

Dit was haar bekoring met die liggaam se vermoë om te kan self-herstel wat tot die belangstelling in haar navorsingsvraag gelei het. "Die uiteindelike doel van regeneratiewe geneeskunde is om die pasiënt se eie stamselle vir terapeutiese doeleindes te kan gebruik," verduidelik sy. "Tog het wetenskaplikes agtergekom dat ten spyte van ons stamsellse se inherente vermoë om te kan vernuwe, dié funksie belemmer word wanneer dit verkry word van pasiënte met 'n onderliggende siekte, soos tipe 2 diabetes."

Sy sê die presiese aard van dié stamselbelemmering is nog nie heeltemal duidelik nie. Die nuwe navorsing sal dus voortbou op vorige navorsingsbevindinge en poog om terapeutiese teikens te identifiseer om sodoende die verskynsel daarvan te kan keer.

"Dit sal moontlik 'n enorme impak hê op die voortuitgang van selterapie wat gemik is daarop om pasiënte se beenmurg-stamselle te gebruik om chroniese wonde te help genees."

Dr Van de Vyver glo die befondsing is toegeken omdat die projek in lyn is met die FGGW se navorsingsagenda asook die Medium-termyn Strategiese Raamwerk van die Nasionale Departement van Gesondheid, siende dat dit een van die kontinent se groot gesondheidsuitdagings aanspreek.

"Daar word voorspel dat meer as 140 miljoen mense in ontwikkelende lande teen 2030 aan tipe 2 diabetes en die gepaardgaande komplikasies daarvan sal lei. Ongeveer 10% van dié pasiënte sal sukkel met wonde wat nie genees nie. As 'n mediese wetenskaplike glo ek dat ons as navorsers 'n sosiale verantwoordelikheid het om ons navorsing te fokus op die prominente uitdagings in die samelewing."

Sy sê die befondsing maak dit moontlik om 'n unieke navorsingsnis binne die Afdeling Endokrinologie te skep, en gee haar ook die geleentheid om haarself as 'n gesiene navorser te kan vestig.

Onderskrif: Dr Mari van de Vyver het befondsing van amper R2 miljoen ontvang van die Nasionale Navorsingsraad vir haar navorsing oor stamselfunksie.