Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties blink uit by nasionale kampioenskap
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 13/04/2017

Maties Parasport-atlete het met verskeie nasionale rekords en kwalifiserende tye vir die IPC Atletiekwêreldkampioenskap van die pas afgelope Suid-Afrikaanse byeenkoms vir persone met gestremdhede teruggekeer. Dit het in Port Elizabeth plaasgevind.

Vir twee van die atlete – die legendes Arnu Fourie en Ilse Hayes – was dit hul laaste nasionale byeenkoms. Albei het hul items gewen en gekwalifiseer vir die wêreldkampioenskap wat van 14-23 Julie in Londen plaasvind.

Fourie het die 100 m en 200 m (T44) in onderskeidelik 11.37 en 23.30 sekondes gewen.

Hayes (T13) het ook haar naelloop-items – 100 m en 200 m – gewen, maar wat nog belangriker as die seges was, is haar vordering ná 'n Achilles-besering.

Volgens haar afrigter, dr Suzanne Ferreira, was dit 'n wedloop teen tyd om te verseker dat Ilse reg sou wees vir die byeenkoms.

"Dit was haar eerste volle 100 m en 200 m uit die blokke en ons het nie werklik geweet wat om te verwag nie. Ons het gehoop dat haar Achilles die impak sou kon hanteer. Hoewel haar tye ver van haar persoonlike beste was, het sy gewys ons kan nou na die volgende fase gaan," het Ferreira bygevoeg. Hayes se tye in die 100 m en 200 m was 12.40s en 26.45s onderskeidelik.

Dyan Buis (T38) en Anruné Liebenberg (T44) het ook goue medaljes in hul onderskeie items gewen en kwalifiserende tye behaal.

"Dyan het drie goeie tegniese wedlope gehardloop. Sy tye was ook goed. Met die 400 m het hy letterlik die wind van voor gehad en dit was 'n moeilike wedloop," het Ferreira gesê.

Oor Liebenberg het sy gesê: "Sy het goeie tegniese wedlope gehardloop, hoewel sy hierdie seisoen al vinniger tye in die 200 m en 400 m gehardloop het."

Ander baanatlete wat kwalifiserende tye vir die wêreldbyeenkoms behaal het, is Ruhan van Rooyen (T37) en Daniel Briers-Louw (T13)

Die veldatlete se afrigter, Karen le Roux, was ook baie tevrede met haar atlete se vertonings. Veteraan Zanele Situ (F54) het in drie items vir die wêreldbyeenkoms gekwalifiseer.

"Reinhardt Hamman (F38) het baie naby aan sy persoonlike beste gekom in die spiesgooi – dit net 'n paar maande ná 'n groot knie-operasie," het Le Roux gesê. Hy het kwalifiserende afstande in die spiesgooi en gewigstoot behaal.

Jean Joubert (F44) het die nasionale rekord in gewigstoot verbeter terwyl Kerwin Noemdo (F46) 'n persoonlike beste afstand in die gewigstoot gegooi het en sy eie SA rekord verbeter het. Dit was ook albei kwalifiserende afstande vir die wêreldkampioenskap.

Nóg twee uitblinkers was Lean Simon (F44) in die spiesgooi en diskus en die rolstoelatleet Brandon Beack in die 100m en gewigstoot (F53).

Keenan Cloete (T46), Thabo Dube (F57), Bilaal Dramat (F43) en die jong Paul Daniels (F43) het SA rekords in onderskeidelik die verspring-, diskus- en 100m-items opgestel.

Foto: Kerwin Noemdo

Fotograaf: Martin Potgieter, Bonzai Fotografie