Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-fietsryers oorwin die ABSA Cape Epic
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 07/04/2017

Verskeie Maties-fietsryers het onlangs die ABSA Cape Epic-bergfietsskofwedren baasgeraak.

Klubvoorsitter Nicky Giliomee, 'n meesterstudent in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), het haar tweede Cape Epic-bergfietstoer voltooi. 

Haar toermaat vir dié uitmergelende skofwedren was Hannele Steyn, die enigste vrou wat al 14 Cape Epic-bergfietstoere voltooi het.

"Dit was 'n ongelooflike ervaring om saam met Hannele te ry. Ons het nog nie vantevore saamgery nie en was albei baie onseker oor wat om te verwag. My doelwit was om Hannele te help om haar 14e Epic te voltooi en ons het baie versigtig en konserwatief gery.

"Dit was baie spesiaal en 'n ware voorreg om agt dae langs Hannele in die saal deur te bring. Sy is 'n rolmodel en ek voel geëerd om haar maat te kon wees," sê Nicky.

Dié span het  12e in die vrouekategorie geëindig in 'n kumulatiewe tyd van 38 uur 44 minute 27 sekondes.

Mariske Strauss en Vera Adrian, wat albei in die 2016 akademiese jaar aan die US graad gekry het, het ook aan die 2017 Cape Epic deelgeneem.

Mariske en haar maat Annie Last van die VK het tweede gekom in die vrouekategorie (in 'n kumulatiewe tyd van 32 uur 15 minute drie sekondes), terwyl Namibiese padfietsryer Vera en haar maat Candice Lill van Suid-Afrika sesde was (in 'n kumulatiewe tyd van 33 uur 15 minute).

Ná die wedren het BSc Sportwetenskap-gegradueerde Mariske 'n spesiale boodskap aan alle Maties gestuur om dankie te sê vir hul ondersteuning.

"Dit was fantasties om julle almal langs die roete te sien," het sy gesê. "My bloed sal altyd maroen wees – eenmaal 'n Matie, altyd 'n Matie!"

Die Cape Epic was nie net 'n vroue-aangeleentheid nie – Maties-fietsryer CP van Wyk en sy toermaat CP Esterhuyse het in 36e plek in die manskategorie geëindig en was die 12e Suid-Afrikaanse span oor die wenstreep. Hulle kumulatiewe tyd  was 32 uur 38 minute 38 sekondes.

"Dit was 'n fantastiese ervaring – daar was baie hoogte- en laagtepunte. Dit het al hoe moeiliker geword om elke dag op te staan en vir elke nuwe dag voor te berei," vertel Van Wyk.

"Maar ons is elke dag beloon met die ongelooflikste roetes en uitsigte wat alles die moeite werd gemaak het, en die ondersteuning langs die pad en die wonderlike atmosfeer sal my oorreed om dit weer aan te pak."

Foto:

Nicky Giliomee en Hannele Steyn gedurende die 2017 Absa Cape Epic Bergfietskofwedren. Foto deur Dominic Barnardt/Cape Epic/SPORTZPICS