Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​US vier 15 jaar van internasionale netwerke
Outeur: Tichafa Chidzonga and Amanda Tongha
Gepubliseer: 06/04/2017

Verteenwoordigers van vennoot-universiteite regoor die wêreld het weer vanjaar die byeenkoms van die Stellenbosch Internasionale Akademiese Netwerke (SIAN) by Universiteit Stellenbosch (US) bygewoon. Die vergadering wat fokus op internasionalisering by die US is vir die 15de keer vanjaar aangebied. Vennote van 23 instellings, afkomstig vanaf 15 lande, het die geleentheid vanaf 28 Maart tot 2 April bygewoon. Dis was die eerste samekoms van vennootinstellings sedert die Nagraadse en Internationale Kantoor in Oktober 2016 heroganiseer is in Universiteit Stellenbosch Internasionaal en die Nagraadse Kantoor. 

 Vanjaar se tema was 'geanker in Afrika, globaal in omvang' en personeel van vier US-kampusse het aan gesprekke oor studente mobiliteit, strategieë vir internasionalisering, en beursprogramme deelgeneem.

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering, het besoekers verwelkom en inligting oor die US strategiese plan vir internasionalisering gegee. "Die doel van meeste universiteite in 'n toenemend globale era is om seker te maak alle eenhede van onderrig, navorsing en dienste betrek word by internasionalisering," het Prof Klopper aan besoekers gesê. Sy het bygevoeg dat netwerke soos SIAN internasionale navorsingsamewerking versterk. "Dit dien as maatstaaf, gee ons geleentheid om by ander te leer en mobiliseer ons intellektuele hulpbronne."

Prof Piet Naudé, Direkteur van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB), het ook 'n toespraak gelewer en gesê nuwe maniere van samewerking moet gevind word. Volgens hom moet hoër onderwys help bou aan 'n globale ingesteldheid. Hy besoekers vertel dat die "verskuiwing van Wes na Oos" instellings noop om aandag te gee aan diversifikasie en 'n groter geopolitieke verspreiding. Nico Elema, bestuurder van US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika, het oor samewerking met instansies op die vasteland gepraat en het gesê dat die universiteit belangrike vennootskappe in verskillende navorsings- en akademiese velde vestig. Hy het besoekers ingelig dat die universiteit planne het om 'n studente-uitruilprogram met vennootinstellings op die vasteland van stapel te stuur.

Die weeklange byeenkoms het afgevaardiges ook geleentheid gegee om met ander instellings bande te vorm. Prof Agnes Gathumbi van die Skool vir Opvoedkunde aan Kenyatta Universiteit in Kenia, het vertel dat sy kontakte gebou het met ander instellings en dit was die moeite werd om die byeenkoms by te woon. "Deur middel van hierdie samewerking het ons studente, meestal PhD studente wat by US studeer en hulle word met die nodige vaardighede toegerus."

US Internasionaal het as deel van SIAN-aktiwiteite ook 'n uitstalling in die Neelsie Studentesentrum vir studies in die buiteland gehou. Verteenwoordigers van vennootinstellings het US studente inligting oor geleenthede by hul instellings gegee. Die immergewilde Internasionale Kosaand is ook gedurende die week aangebied.