Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Gendereenheid by die Beyers Naudé Sentrum, Fakulteit Teologie
Outeur: Marita Snyman
Gepubliseer: 31/03/2017


Gender Unit-89.jpg

Onderskrif: Prof Amanda Gouws (Gasspreker); Dr Charlene van der Walt (Gendereenheid); Prof Julie Claassens (Gendereenheid) en Prof Sarojini Nadar (Hoofspreker) tydens die bekendstelling van die Gendereenheid op 28 Maart 2017

Die gesondheid van moeders en die sterftesyfers onder babas is twee van die Verenigde Nasies se Millenniumdoelwitte. In Suid-Afrika, sowel as die res van Afrika, is vrouens en kinders in besonder kwesbaar ten opsigte van die volgende: HIV/VIGS (wat beskryf kan word as 'n gender-pandemie); die sorg van die siekes en oues van dae; armoede en seksuele geweld.

Die Fakulteit Teologie van Universiteit Stellenbosch het saam met vennote in Suid-Afrika, die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), in Tanzanië (TUMA Universiteit) en Ethiopië (Ethiopiese Nagraadse Teologiese Skool) hierdie uitdaging aangepak en elke instelling het 'n unieke Meestersprogram in Gender, Gesondheid en Teologie/Godsdiens ontwikkel om hierdie harde werklikheid, aan te spreek. Die verbintenis met nie-regeringsorganisasies versterk die sosiale impak van die akademiese program.

By Universiteit Stellenbosch het die MTh Gender en Gesondheidprogram sedert 2013 elke jaar 10 diverse en baie interessante Meestersstudente van regoor Suid-Afrika sowel as buite die grense ontvang waar hulle met die komplekse kruispunt van Gender, Gesondheid en Teologie stoei.  

Die program se impak kan in die vele pragtige stories sedert die ontstaan daarvan, gesien word. Die meeste van die studente is kerkleiers en in 'n ideale posisie om 'n verskil in hul onderskeie gemeenskappe te maak. Die program trek boonop ook sommige nie-tradisionele studente. Om maar slegs een voorbeeld te noem: Renate van der Westhuizen is 'n onderwyseres aan 'n privaatskool vir kinders met leerprobleme by tradisionele skole. In haar rol as Adjunkhoof by die skool, spandeer sy heelwat tyd aan die berading van skoliere en sy het gedurende die afgelope paar jare 'n groot aantal kinders behandel wat slagoffers van verkragting en seksuele aanranding was. Dit het tot die tema van haar tesis gelei: "Verkragting as mishandeling: die herlees van die verkragting van die Levitiese byvrou in Rigters 19." Dit was 'n inspirasie om te sien hoe die studie Me Van der Westhuizen sowel as die skoolomgewing waar sy werk op 'n insiggewende wyse getransformeer het. Sy het begin om gereeld die onderwerp van verkragting in haar klasse aan te spreek. Haar voortdurende toewyding aan die onderrig van studente en kollegas oor die realiteit van seksuele geweld in skole het gelei tot die eerste werkswinkel vir onderwysers oor seksuele geweld in 2016. Sy is genooi na 'n werkswinkel wat deur die Departement van Hoër Onderwys aangebied is waar sy gevra was om 'n aanbieding te doen oor moontlike kurrikulumveranderinge tov die aanspreek van seksuele geweld in skole. 

Die MTh Gender en Gesondheidsprogram het die personeel aangespoor om nuwe geleenthede vir die onderrig van en navorsing oor die kruispunt van Gender, Gesondheid en Teologie, wat alreeds 'n defnitiewe sosiale impak op geloofsgemeenskappe asook die breër gemeenskap gehad het. Die Universiteit Stellenbosch se Vise-Rektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Prof Eugene Cloete, het die Gendereenheid inisieer. Die Hoof van die Gendereenheid, Prof Juliana Claassens en die Navorsings-en Programkoordineerder, dr Charlene van der Walt, hoop om by te dra tot die skep van 'n wêreld waar rassisme, seksisme, homofobie en die ontmenslikende realiteit van armoede nie meer 'n probleem is nie, deur onder andere:

  • Fondse te werf vir PhD beurse vir navorsing oor Gender, Gesondheid en Teologie en op hierdie manier te help om denkende leiers te skep wat kan terugkeer na hul onderskeie gemeenskappe as agente van verandering.
  • 'n Gemeenskap van geleerdes te skep wat deur hul navorsing bydra tot die totstandkoming van 'n sentrum van uitnemendheid wat die kruispunt van Gender, Gesondheid en die onderskeie sub-dissiplines van Teologie kontekstueel verduidelik. Danksy Prof Cloete was die Gendereenheid in staat om die eerste postdoktorale genoot aan te stel, die talentvolle en ervare Dr Funlola Olojede van Nigerië.
  • Netwerke op kampus te bou saam met nie-regeringsorganisasies en geloofsgemeenskappe, en met geleerdes nasionaal en internasionaal om sodoende diskoers oor onderskeie aspekte van die kruispunt tussen Gender, Gesondheid en Teologie te stimuleer met die doel om 'n etos te skep wat die waardigheid van alle mense bevestig en alle vorme van diskriminasie weerstaan.