Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Grondwet het sentrale plek by FGGW
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 31/03/2017

Drie gedenkplate wat die aanhef tot die Grondwet van Suid-Afrika met trots vertoon is onlangs onthul by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), Universiteit Stellenbosch.

"Die aanhef bevat die kernboodskappe wat in die grondwet vervat word, en dit het 'n sentrale plek in ons Fakulteit," het prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, gesê.

Die gedenkplate vertoon die aanhef in die drie amptelike tale in die Wes-Kaap: isiXhosa, Engels en Afrikaans.

Volgens Volmink is daar verskeie redes waarom die aanhef tot die grondwet so prominent vertoon word. "Die Fakulteit bestaan nie in isolasie nie, en is inderdaad 'n mikrokosmos van die breër Suid-Afrikaanse samelewing met mense van verskillende rasse, geloofsoortuigings, etnisiteit, geslagte, seksuele oriëntasie, politieke oortuigings en maatskaplik-ekonomiese statuses. Die waardes wat in die grondwet vervat word hou verband met hoe ons met mekaar behoort om te gaan," het Volmink verduidelik.

"Tweedens herinner die grondwet ons aan waar ons vandaan kom as 'n bevolking en verteenwoordig dit die einde van die donker era van Apartheid en lei dit die nuwe [demokrasie] in."

Volmink het genoem dat die grondwet ook as 'n gids dien om Suid-Afrikaners te herinner waarheen om te gaan. "Dit wys die rigting aan na waarheen ons moet streef," het hy gesê.

"Die grondwet bevorder onder meer die volgende waardes: respek vir menswaardigheid; die strewe na gelykheid en die bevordering van menseregte en vryheid; nie-rassigheid en –seksisme; en die oppergesag van die grondwet en geregtigheid.

"Ons moet hierdie waardes in ons tuistes, ons werkplekke, plekke van geloof, ens. uitleef as ons dit ook in die breër gemeenskap wil sien," het Volmink gesê.

Onderskrif: Dr Dimitri Erasmus, HOD van Tygerberg-hospitaal; mnr Lee Baatjes, voorsitter van die Tygerberg Studenteraad; prof Mariana Kruger, hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die FGGW; mnr Musi Bungane, finansies by die FGGW; dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak by die FGGW; en prof Jimmy Volmink, Dekaan: FGGW.