Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TB-navorsing: ’n Stryd teen die Hydra
Outeur: Jeanne van der Merwe
Gepubliseer: 24/03/2017

​Prof Paul van Helden praat oor tuberkulose (TB ) soos 'n militêre strateeg oor 'n vyand. In meer as 25 jaar se navorsing het hy dié siekte intiem leer ken en 'n belangrike rol gespeel in hoe konvensionele geneeskunde dit sien, benader en behandel. Meer onlangs het hy ook oorlog begin voer teen TB onder Suid-Afrika se wildlewe en só sy vasberadenheid om 'n verraderlike siekte te beveg met sy lewenslange liefde vir bewaring en wild versoen.

As voormalige Hoof van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW ) se Departement Biomediese Wetenskappe, het hy die Departement Wetenskap en Tegnologie se Sentrum vir Uitnemendheid in Biomediese Tuberkulosenavorsing bestuur. Hy het al talle toekennings ontvang en in 2009 het Thomson Reuters hom geïdentifiseer as die vierde belangrikste TB -navorser ter wêreld.

"TB het 'n paar eienskappe wat dit moeilik maak om te beheer. Dit kruip weg en dít is een van die uniekhede wat TB onderskei van siektes wat die samelewing se aandag trek, soos Zika of Ebola, wat onmiddellik toeslaan en mense vinnig doodmaak.

"Mense met TB raak oor 'n relatief lang tyd siek en sterf maande of eers jare later. Dit trek nie jou aandag nie en dít is deel van die probleem. Al behandel jy nóú 100% van  pasiënte met aktiewe TB , is daar 'n groot groep mense wat later in hul lewe gaan siek word.

"Jy kan dit ook nie met net een antibiotika behandel nie. Dit moet oor 'n baie lang tyd met veelvuldige antibiotika behandel word en 'n wye verskeidenheid van gesondheidsleweringsprobleme duik weens die lang behandelingstydperk op."

Sy TB -werk het in die laat 1980's tydens die  daeraad van DNS -studies begin. Destyds was hy en 'n doktorale student onder die eerste wetenskaplikes in Afrika om polimerasekettingreaksie (PKR ), 'n nuwe uitvindsel, te gebruik om die DNS van 'n diarree-siekte vir diagnostiese doeleindes te bestudeer. "Maar toe besluit ons om dié tegnologie op 'n veel belangriker siekte toe te pas. Ons het TB gekies. Dís hoe dit begin het."

Ken jou vyand

Van Helden werk nou al dekades lank met TB júís omdat dit so 'n tameletjie is en so 'n ernstige bedreiging vir wêreldgesondheid inhou. Suid-Afrika het elke jaar bykans 'n halfmiljoen aktiewe TB -gevalle. Die land is 'n globale TB -brandpunt en dit plaas 'n enorme las op die gesondheidsorgstelsel.

"Suiwer vanuit 'n intellektuele en akademiese oogpunt is dit 'n ongelooflik gekompliseerde organisme wat 'n komplekse interaksie met sy gasheer het. Dis baie stimulerend om met

iets te werk wat regtig interessant is en sove elfasette het. Dis ook 'n veld waar jy van die baie basiese tot by die baie toegepaste kan werk. En ons werk aan 'n siekte wat werklik belangrik is en waar ons hoop om 'n verskil te maak."

Hy glo die mediese wetenskap het beduidende vordering in die stryd teen TB gemaak.

"Daar was verbeteringe van die laboratoriumbanke tot by die hospitaalbed. Omdat ons dit beter verstaan, kan ons dit beter diagnoseer. Omdat ons weerstandigheid teen medikasie beter verstaan, kan ons behandeling beter aanpas en met beter kombinasies vir medikasiebestande gevalle vorendag kom."

Danksy beter gesondheidsorgstelsels word meer mense gediagnoseer en behandel en voltooi meer hul behandeling.

Struikelblokke

Medikasiebestande TB is al jare lank 'n struikelblok in TB -behandeling. Dit word tans vererger deur die toename in antibiotikaweerstandige mikrobes, asook 'n gebrek aan nuwe antibiotika.

"Mens het minstens vier tipes aktiewe antibiotika nodig om TB regtig te genees. Watter kiem jy ook al behandel, moet vatbaar vir al vier wees. As net een of twee tipes antibiotika oorbly wat in individuele pasiënte werk, is die kans op genesing nie baie groot nie. Ons is nog nie by die laaste antibiotika nie, maar sodra ons by die laaste vier uitkom,is ons in groot moeilikheid."

Daar is min aansporing vir farmaseutiese maatskappye om nuwe antibiotika te ontwikkel omdat die grootste behoefte in die armste lande is en die potensieel klein winsmarge dalk nie die enorme ontwikkelingskoste regverdig nie.

"Ons probeer hierdie probleem omseil deur vennootskappe tussen die openbare en private sektore te smee, waarin maatskappye en akademici saamwerk om die ontwikkeling van nuwe antibiotika te bevorder. Maar die  geld wat hiervoor beskikbaar is, is net 'nfraksie van wat nodig is."

Vir sommige kan dié scenario hopeloos voorkom, maar dit skrik Van Helden nie af nie.

"Toe ek meer as 25 jaar gelede met TB -navorsing begin het, is aangevoer jy moet 'nspotgoedkoop, eenvoudige diagnostiek hê,  anders sal dit nooit werk nie. Vandag is dié redenasie vervang met die besef dat nuwe, beter diagnostiek veel meer kos, maar ons gebruik dit selfs in Suid-Afrika omdat dit soveel beter is dat dit die bykomende koste regverdig.

"Omdat ek dít gesien het, kan ek sê dat as ons met 'n baie goeie diagnostiek of antibiotika vorendag kom, sal dit posvat al is dit duur."

Volgens Van Helden behels nuwe TB -navorsingsgebiede die manipulering van pasiënte se eie immuunstelsel en die ontwikkeling van TB -entstowwe.

"Ek voel nooit die situasie is hopeloos nie. Ek werk al so lank in hierdie veld en het al so baie dogmas sien kom en gaan, dat ek geen twyfel het ons moet volhard nie."

'n Bedreiging in wildreservate

Van Helden het sy PhD-studie in biochemie in 1978 aan die Universiteit van Kaapstad voltooi en hom in Januarie 1979 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit. Buiten vir 'n nadoktorale genootskap in die VSA in 1981 en 1982, was hy die hele tyd aan die departement verbonde.

Hy het sy vrou, Eileen (Hoal) van Helden, in die VSA ontmoet en sy het ook by die Departement van Biomediese Wetenskappe aangesluit.

"Ons werk al van 1982 af saam en dis 'n enorme voorreg. Sy ondersoek die genetika van TB -vatbaarheid en hoe dit in Suid-Afrika se bevolkingsgroepe neerslag vind."

Hulle is ook albei betrokke by die departement se program oor diere-TB en fokus op wild. Hulle is natuurliefhebbers en ereveldwagters van SANP arke. TB raak 'n ál groter probleem in veral die Krugerwildtuin en die Natalse parke, waar ingevoerde beeste naïewe wildpopulasies besmet het.

"Ons moet weet hoe belangrik dié siekte in 'n vrylopende stelsel is. Ons weet dit sal individuele diere doodmaak, maar sal dit 'n verskil maak aan die hele populasie en sal dit die ekostelsel raak? Indien nie, is dit een van die baie siektes wat wild kry. Indien dit wel die ekostelsel raak, moet ons dink wat ons kan doen; ons het nie die antwoord op daardie vraag nie. Ons is veral bekommerd oor skaars en bedreigde spesies, want daar tel elke individu."

Van Helden tree in 2017 ùit heeltydse bestuur en navorsing en ontruim tans sy kantoor. Ná sy amptelike aftrede sal hy aanhou navorsing doen.

"Dit gaan my 'n jaar vat om my kantoor te ontruim, want ek moet steeds hierdie plek bestuur. En ek is ongelukkig geneig om goed op te gaar."

In die ontruimingsproses het hy afgekom op die honneurs-navorsingsprojek van die FGGW se Senior Direkteur vir Navorsing en Innovasie, prof Therina Theron, asook op die eksperimentele werk van prof Mark T. Bedford van die Universiteit van Texas se Departement Epigenetika en Molekulêre Karsinogenese.

"Dis wonderlik om te sien hoe mense vir wie ek 'n mentor was, sukses behaal – en nie net op akademiese gebied nie. Ek het nog steeds kontak met van my vroeë studente en dis regtig lonend om in hul lewe te deel. Ek dink aan hulle as my familie."

Onderskrif: Tuberkulose is al eeue lank ’n hardnekkige siekte en hou steeds so ’n ernstige bedreiging in dat die  Wêreldgesondheidsorganisasie dit as ’n wêreldwye prioriteit beskou. Prof Paul van Helden het die grootste deel van sy indrukwekkende loopbaan aan dié probleem gewy en is ’n wêreldleier op die gebied.

Foto-krediet: Damien Schumann