Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Transformatiewe potensiaal van tegnologie in SA skole: Geleenthede en uitdagings
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 23/03/2017

Tegnologie se potensiaal om transformasie in Suid-Afrikaanse skole teweeg te bring was die onderwerp van die Fakulteit Opvoedkunde se fakulteitsbespreking by die Universiteit Stellenbosch se onlangse Tuiskoms-naweek.

Dr Sonja Strydom, senior raadgewer in die Sentrum vir Leertegnologieë en raadgewer in die Fakulteit Opvoedkunde, het die geleenthede en uitdagings wat deur leertegnologieë gebied word, bespreek.

"Leertegnologieë is nie bedoel om onderwysers te vervang nie maar eerder om die beste eienskappe van aangesig-tot-aangesig-onderwys aan te vul. Dit is die doeltreffendste wanneer 'n gepaste tegnologiese hulpmiddel gebruik word om 'n spesifieke opvoedkundige uitdaging in die klaskamer of lesingsaal aan te spreek.

"Leertegnologieë kan transformatiewe krag hê, maar 'n kritiese benadering is van uiterste belang en daarom moet opvoeders ewe bedag wees op die uitdagings as die geleenthede.

"Wanneer 'n opvoeder 'n bepaalde onderwysuitdaging identifiseer, moet hy of sy in staat wees om 'n gepaste hulpmiddel te kies en weet wat hulle daarmee kan bereik, sowel as wanneer en waar om dit in te span. Leertegnologieë moet op 'n oordeelkundige manier in die kurrikulum ingesluit word."

Die agtergrond tot hierdie bespreking is die nasionale benadering om leertegnologieë in skoolpraktyke sowel as kurrikulums van skole te integreer, wat die weg baan vir opwindende en potensieel transformatiewe pedagogieë in die huidige SA skoolkonteks. Skole word toegerus met 'n reeks basiese tot meer gevorderde tegnologieë en daar word van opvoeders verwag om leertegnologieë as deel van die leerervaring van leerders te integreer. Insgelyks kom departemente van onderwys en departemente van hoër onderwysopleiding geleidelik meer in lyn met mekaar wat betref die gebruik van tegnologieë.

"Dit is belangrik om te besef dat tegnologieë transformasie teweeg kan bring, maar ook kan verdeel," sê Strydom. "Dit bly daarom ons verantwoordelikheid om hierdie geleenthede met sensitiwiteit aan te gryp."

Video: 'n Tentoonstelling van  die huidige leertegnologiepraktyke wat by US se Fakulteit Opvoedkunde aan die ontwikkel is sowel as die potensiaal van sulke praktyke vir skoolopleiding op verskillende opvoedkundige en kontekstuele vlakke.    

 


Foto: Willie Knoetze het een slimfoon en verskeie A4-papiere met patrone op gebruik om te wys hoe hoëtegnologie-beginsels in 'n laetegnologie-omgewing toegepas kan word (bv. waar leerders nie ook toegang het tot slimfone of tablette nie). Fotograaf: Henk Oets