Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n rekordgetal van 2922 kwalifikasies tydens die Maart gradeplegtighede toegeken, en het die week se verrigtinge afgesluit deur eregrade aan prof Kofi Agawu en dr Monique Nsanzabaganwa toe te ken gedurende Vrydag (17 Maart) se gradeplegtigheid .
Die Kanseliersete, 'n spesiale funksie vir die ontvangers van doktorsgrade, is daardie middag by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) gehou.
"Soos ek by vanoggend se gradeplegtigheid gesê het, ons het weer 'n nuwe rekord die jaar behaal – 278 doktorsgrade is toegeken vir die 2016 akademiese jaar, 140 die week en 138 in Desember laasjaar," het prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier aan die US, by die geleentheid gesê, en het die ontvangers van doktorsgrade hartlik geluk gewens. "Ek wil almal bedank wat julle deur dik en dun bygestaan het. Eggenote, geliefdes, ouers, kinders en ander familielede en vriende – baie van julle is hier vandag. Dankie vir julle ondersteuning."
Die graad Doktor in die Wysbegeerte (PhD), honoris causa, is toegeken aan prof Kofi Agawu vir sy internasionaal gerekende bydrae tot musiekwetenskap, vir sy baanbrekende navorsing oor Afrika se musiek, en vir sy rol om, as bewys van die akademieskap wat Afrika kan voortbring, 'n volgende geslag vakkundiges van die vasteland tot voorbeeld te strek.
Kyk na die video waar prof Agawu sy eregraad ontvang:
"Musiek in Afrika het 'n geskiedenis van waarheid uitspreek teenoor mag," sê prof Stephanus Muller in sy heildronk op Agawu se sukses. "Dit verrig steeds die doel in die alledaagse lewens van baie mense in ons land en kontinent. Professor Agawu het, tydens 'n loopbaan by van die mees toonaangewende universiteite wêreldwyd, meer gedoen as enige ander kenner van Afrika-musiek om ouderwetse standpunte te bevraagteken, aanstootlike stereotipes af te breek en om diskoers oor Afrika-musiek in 'n kritiese en intellektuele wyse te herposisioneer."
Prof Agawu het sy kollegas, eggenoot, onderwysers en studente vir hul ondersteuning bedank en na 'n Ghanese spreekwoord verwys wat sy lewe gevorm het, wat vertaal na "the time that you are living in, its thing is what is done".
"Toe ek by my hotel gister aangekom het, het ek 'n pragtige handgeskrewe boodskap van prof Wim de Villiers ontvang, wat ons wedersydse belegging in die plaaslike en globale beklemtoon," het hy afgesluit. "Ek sien uit na volgehoue verbintenis met die Universiteit. Weereens dankie dat julle die eer aan my toegeken het."
Nsanzabaganwa het die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, ontvang vir haar rol in die ontwikkeling van vakkundig verantwoordbare ekonomiese beleid vir Rwanda om haar landgenote só van 'n beter lewe te voorsien, vir haar bydrae om wêreldklasstaatsinstellings te skep, en vir haar voorspraak vir vroue as kernrolspelers in die Afrika-ekonomie. Nsanzabaganwa het al onder andere as minister van handel en nywerheid in Rwanda en adjunkpresident van die Rwandese Nasionale Bank.
Kyk na die video waar dr Nsanzabaganwa haar eregraad ontvang:
"In teenstelling met 'n kommerwekkende tendens van ons era, glo Monique nie in alternatiewe feite nie, of om verantwoordelikheid te vermy nie," sê prof Stan du Plessis, wat 'n heildronk op Nsanzabaganwa ingestel het. "Wanneer jy met haar gesels oor haar besluite as minister en adjunkpresident, beklemtoon sy volgehoue verantwoordbaarheid en goeie leierskap, wat verantwoordelike burgerskap bevorder."
"Rwanda, wat destyds gekwalifiseer het as 'n mislukte staat, het uit die as van volksmoord opgestaan en is nou voorspoedig," sê Nsanzabaganwa. "Op 'n geleentheid soos hierdie voel ek nederig. Ek dra hierdie eregraad in handelswetenskappe op aan almal wat hard werk om Afrika en Afrikane hul volle ekonomiese potensiaal te laat bereik."