Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Simonsbergers vang graad danksy ondersteuning
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 17/03/2017

Dit was die ondersteuningstrukture by hul koshuis en die ondersteuning van dosente aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat twee Maties in staat gestel het om deur te druk met hul eerste jaar ná lewensveranderende trauma.

Vrydag (17 Maart) het dié twee US-studente en vriende, Hlumelo Nonxuba van die Oos-Kaap en AJ (Abraham Johannes) du Plooy van Namibië, albei hul BCom-graad van die US verwerf. Hulle is albei inwoners van Simonsberg-koshuis en het albei in hul eerstejaar ʼn ouer aan die dood afgestaan.

Kort nadat Hlumelo (22) in 2013 sy eerste jaar begin het, is sy ma in April daardie jaar weens kanker oorlede. Dit was uiteraard vir hom ʼn moeilike begin aan sy studiejare, maar hy sê hy het goeie ondersteuning binne die koshuis en van dosente gekry.

"Ek het pas op Stellenbosch aangekom toe my ma oorlede is, en dit was swaar. As student het ek ook soveel gehad om in daardie tyd te doen. Maar gelukkig het ek goeie ondersteuning gekry by die koshuis," vertel Hlumelo, wat tans die primarius van Simonsberg is.

Hy sê die koshuis se huiskomitee, sy vriende en die kerk waaraan hy op Stellenbosch behoort, het hom bygestaan.

"My ma se dood was traumaties, maar om te weet dat ek nie alleen is nie, het my hoop gegee en aangespoor om aan hou te studeer en nie net sommer op te gee nie. Ek wou ook myself bewys," sê Hlumelo.

AJ (21) se pa is aan die einde van 2014 aan ʼn hartaanval oorlede. "Dit was tydens my eerstejaar-eksamen. Ek moes Namibië toe vlieg vir die begrafnis en moes my eksamen op die 'tweede geleentheid' skryf. Dit het baie stres veroorsaak," sê AJ, wat ʼn mentor by sy koshuis is.

Hy meen ook goeie ondersteuning in die koshuisstrukture en die feit dat sy dosente sy situasie begryp het, het hom aangespoor om deur te druk.

"My pa was ook in Simonsberg, en op ʼn manier het dit my aangespoor om nie op te gee nie, maar om aan hom te bewys ek kan deurdruk," sê AJ.

Sy raad aan studente wat ook sulke trauma beleef, is om te besef dat dit nie die einde van die wêreld is nie. "Dit is eerder net nog ʼn struikelblok wat jy kan oorkom. Jy leer om te leef daarmee en oor tyd word dit net beter."

Hlumelo se raad is dat jy moet praat oor jou trauma. "Gesels met die koshuishoof, met vriende of lidmate van jou kerk," sê hy.

FOTO: AJ du Plooy, dr Leslie van Rooi (Simonsberg se koshuishoof) en Hlumelo Nonxuba.