Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rugby emigrante: dit gaan nie net oor geld en kwotas
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 17/03/2017

Vra die mees getroue rugbyondersteuners hoekom hulle dink so baie spelers verlaat Suid-Afrika om oorsee te speel en die kanse is goed dat hulle sal sê dit is oor geld en kwotas. Maar is dit regtig so eenvoudig? Is daar dalk ander redes waarom rugbyspelers by oorsese klubs mag aansluit?

"In teenstelling met die algemene opvatting, veral onder rugbyondersteuners, sluit Suid-Afrikaanse rugbyspelers nie net as gevolg van geld of kwotas by oorsese klubs aan nie  ̶  of in sommige gevalle selfs glad nie weens hierdie redes nie. Hierdie twee faktore speel nie die rol wat mense dink nie," sê Rais Frost wat sy Meestersgraad in Besigheidsbestuur en -administrasie (MBA) aan die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB) voltooi het.

Frost het Donderdag (16 Maart 2017) sy MBA by die Universiteit Stellenbosch se Maart-gradeplegtigheid ontvang. Sy studieleier was prof Mias de Klerk van die USB. Hy het ook ondersteuning ontvang van Eugene Henning, besturende direkteur van MyPlayers, Suid-Afrika se professionele rugbyspelersorganisasie.

Frost, ʼn prokureur van Belville, is passievol oor rugby en sê hy wil op administratiewe vlak 'n verskil in die sport maak.

"My navorsing het getoon spelers gaan oorsee omdat die rugbystelsel druk op hulle plaas as gevolg van hul ouderdom, omdat hulle te veel reis, omdat die rugbypubliek te negatief is, en ook omdat hulle die geleentheid kry om ʼn ander kultuur en ʼn ander speelstyl of -stelsel te ervaar," sê Frost oor die werklike redes waarom talentvolle spelers besluit om SA Rugby verlaat.

"Hoewel daar baie menings is oor waarom Suid-Afrikaanse rugbyspelers oorsee gaan, is daar, sover vasgestel kon word, nog geen wetenskaplike studie gedoen om sulke redes vanuit spelers se perspektief te ondersoek nie," sê Frost.

Om uit te vind wat hierdie redes is, het hy onderhoude met agt oorsese spelers (Verenigde Koninkryk, Frankryk en Japan) met ʼn gemiddelde ouderdom van 34 jaar gevoer. Ses was Springbokke en een het Verenigde Koninkryk (VK) toe getrek en gekwalifiseer om vir sy aangenome land te speel. Die ander speler het Curriebeker- en Superrugby gespeel voordat hy by ʼn oorsese klub aangesluit het.

"Ten spyte daarvan dat hierdie spelers gereeld finansiële vergoeding in die onderhoude genoem het, was daar geen kritiese behoefte aan buitensporige hoë vlakke van besoldiging nie."

"In terme van die druk wat die rugbystelsel op hulle plaas weens hul ouderdom, het spelers gesê dat jy in Suid-Afrika dikwels as 'oor die muur' beskou word wanneer jy die ouderdom van 30 jaar bereik het - die sogenaamde 30-jaar plafon."

"Dit het 'n domino-effek tot gevolg omdat spelers besluit om die land op 'n jonger ouderdom te verlaat want hulle weet wanneer hulle 30 jaar oud word, of selfs nader aan 30 beweeg, geleenthede beperk sal wees."

Frost sê terwyl spelers ouer as 30 in Suid-Afrika deur die stelsel verwerp word, word sulke spelers in ʼn land soos Frankryk as in hul fleur beskou en hoog aangeslaan.

Hy noem ook die voorbeelde van All Blacks-spelers Dan Carter en Richie McCaw wat in 2015 op die ouderdomme van onderskeidelik 33 en 34 deurslaggewende rolle in Nieu-Seeland se Wêreldbeker-sukses gespeel het. Nog 'n All Black, Brad Thorn, was 36 jaar oud toe hy in 2011 sy span gehelp het om 'n tweede Wêreldbeker te wen.

"Wat die baie reis betref, het spelers gesê om in VK- en Europese toernooie te speel beteken dat hulle op die langste twee nagte weg van die huis is, terwyl dit in Suid-Afrika op enige gegewe tydstip tot drie weke kan wees. Hulle het gesê dat 'n besige reisskedule 'n negatiewe impak op hul families en sosiale lewe het."

"Spelers het ook gewys op die herhalende aard van Suid-Afrika se jaarlikse rugbykalender en het gesê hulle speel jaar na jaar in dieselfde toernooie en wou graag verskeidenheid en sterker kompetisie hê."

Frost sê hulle het genoem dat die gehalte van toernooie en die samestelling van oorsese klubspanne beter geskik is vir spelers om hulself te verbeter omdat daar dikwels 'n oorvloed ervare internasionale spelers is by wie ander spelers kan leer en wat hulle kan mentor.

"Nog 'n belangrike rede hoekom spelers oorsee gaan, is die feit dat die erge negatiwiteit en kritiek van ondersteuners en die media ʼn nadelige uitwerking op hul families en sosiale lewe het. Dit het op sy beurt ʼn negatiewe impak op die spelers," voeg Frost by.

Hy sê dit is belangrik om in gedagte te hou dat spelers se redes om oorsee te gaan met mekaar verband hou en een rede nie as 'n enkele oorsaak uitgewys kan word nie.

Oor wat gedoen kan word om spelers in die land te hou, sê Frost dat breedweg gesien die manier waarop rugby bestuur word en kompetisiestrukture moet hervorm en persepsies dat spelers 30 jaar en ouer te oud is ook moet verander.

Frost sê nou dat hy die redes vir hoekom spelers oorsee gaan vasgestel het wil hy sy doktorsgraad doen om die optimale retensiestrategie vir SA rugbyspelers te formuleer.

Hy voeg by dat so 'n studie, onder andere, 'n diverse groep plaaslike spelers by ʼn unie in Suid-Afrika sou kon insluit.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Rais Frost

FROST ATTORNEYS

8-10 Eerste Laan

Boston

Bellville

7530

Tel: (021) 948 9037

Sel: 082 593 8682

E-pos: pmfrost@yahoo.com