Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Anita verskuif grense
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 17/03/2017

Haar studiejare aan die Universiteit Stellenbosch (US) – wat Vrydag 'n hoogtepunt bereik het toe sy haar BCom-graad in Bestuursrekeningkunde ontvang het – het aan Anita Engelbrecht bewys daar is geen uitdaging wat sy nie met sukses kan aanpak nie.

"Dit het my 'n baie beter idee gegee van wat ek kán doen," vertel Anita, wat aan spastiese diplegie (dubbelsydige verlamming) ly en haar lewe lank al in 'n rolstoel is. Sy is op 28 weke gebore en het nie lank ná geboorte nie suurstofnood ervaar. Dit het die deel van haar brein wat motoriese funksie beheer, beskadig, en is die oorsaak van die spastiese diplegie.

Haar rolstoel maak egter nie van haar 'n kluisenaar nie. Anita hou daarvan om grense te verskuif. Want 'magic' gebeur buite jou gemaksone, glo sy.

Nadat sy met vyf onderskeidings aan die Hoërskool Bellville gematrikuleer het, het Anita in 2013 by die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangemeld om BRek te studeer. Sy het ná die eerste vergadering met verteenwoordigers van die fakulteit geweet sy is op die regte plek.

"Dit was van die begin af vir my duidelik dat my sukses op alle vlakke vir hulle baie belangrik is," sê sy. "Daar was nooit 'n probleem te groot om uit te sorteer nie."

Dit beteken egter nie dat daar geen uitdagings was nie. Anita moes eksamens met die hulp van 'n skribeerder aflê omdat sy, in haar eie woorde, "die skryfspoed van 'n slak het". Om dinge nog moeiliker te maak, kan sy net uit een oog op 'n slag sien. En haar brein besluit watter een sonder dat sy dit kan beheer. Dit maak dit baie moeilik om te lees en beteken sy het nie tyd om studiemateriaal twee of drie keer deur te gaan nie. Sy moet dit met die eerste keer inneem en verstaan.

Sy het aan die einde van haar eerste jaar met haar dosent gepraat, wat haar gevra het of sy regtig 'n geoktrooieerde rekenmeester wil wees. Dit sou beteken dat sy na kliënte moes gaan sonder om te weet of die omgewing daar rolstoelvriendelik is. Met die groter prentjie in gedagte het hulle toe gesamentlik besluit dat Anita sou oorskakel na die graad BCom (Bestuursrekeningkunde). Dit was die regte besluit vir haar.

"Somtyds moet ek besluit tussen wat ek graag wil doen teenoor wat prakties uitvoerbaar is. Ek beskou dit nie as 'n mislukking dat ek van kursus moes verander nie. As ek dinge nie probeer nie, sal ek altyd daaroor wonder," het sy in 'n vorige onderhoud gesê.

 "Stellenbosch het my die geleentheid gegee om nie net suksesvol te wees in my studies nie, maar ook holisties as mens te groei."

Sy vergelyk die fakulteit, die eksamenkantoor, haar vriende en ondersteuningsnetwerk en haar geloof met die stokkies wat 'n mens langs 'n rankplant plant om dit te help groei en regop te hou.

"Die reis, die avonture en die groei op alle vlakke – dit is meer belangrik as die eindpunt," meen sy.

Sy het die afgelope twee jaar in Huis Russel Botman gewoon en kon student-aktiwiteite soos om in die biblioteek te studeer of saam met vriende die bergpad bo Coetzenburg aan te durf, geniet.

"My studiejare het al my verwagtinge oortref," sê sy. "Maar soms kom goeie goed tot 'n einde sodat nuwe avonture kan begin."

  • Anita is tans besig met haar honneursgraad deur UNISA. Sy en Hilton Murray, 'n medelid van die Bellville-atletiekklub wat haar in 'n spesiaal-ontwerpte waentjie stoot, beplan om vanjaar vir die tweede keer aan die Comrades-marathon deel te neem.