Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Graad maak nuwe geleenthede moontlik vir voormalige Maties-rugbykaptein
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 17/03/2017

Sy rugbyloopbaan het dalk onlangs tot 'n einde gekom, maar nuwe geleenthede wag vir die voormalige Maties-rugbykaptein Beyers de Villiers wat Donderdagaand sy Nagraadse Diploma in Projekbestuur met lof ontvang het.

De Villiers, wat vir Maties en WP uitgedraf het, meen hy is baie bevoorreg dat hy die sport wat hy liefhet kon beoefen en intussen ook sy grade kon behaal het.

Hy sou baie graag sy rugbyloopbaan op sy eie terme wou afsluit, maar om kanse te waag met sy gesondheid was nie 'n opsie nie.

De Villiers het onlangs sy rugbystewels opgehang nadat hy harsingskudding opgedoen het in die wedstryd teen UP-Tuks – Maties se eerste wedstryd in die 2017 Varsitybeker-rugbyreeks. Spesialiste hom aanbeveel het om nie weer te speel nie.

"Ek het sedert my skoolrugbydae al 13 keer of meer harsingskudding opgedoen en die newe-effekte het al hoe erger geword. Ek het kopseer gehad, gesukkel met konsentrasie en daar was ook voorvalle van geheueverlies. Ek was voor vanjaar se Varsitybeker-reeks weer by die spesialis wat vir my gesê het dat as ek nog een stamp kry, hulle my nie verder toestemming kan gee om te speel nie. Teen Tuks was die stamp so hard dat ek vir 'n paar oomblikke bewusteloos was. En toe weet ek… Dit het net te gevaarlik geraak om te speel," vertel De Villiers.

"Dit was 'n moeilike, maar ook maklike besluit om op te hou speel. Die besering het in werklikheid vir my besluit. Die dokter het namens my besluit! Daar was geen ander keuse vir my nie. So in daardie opsig, was dit maklik. Die moeilike deel is dat ek nou uitmis op my laaste jaar van rugby. En dat dit sommer aan die begin van die seisoen gebeur het. Ek sou baie graag nog dié jaar wou speel."

Om sy gesondheid op die spel te plaas, is egter nie die moeite werd nie, sê De Villiers. "Enige ander besering – skouer, been, knie, hand – kan herstel. Met goeie rehabilitasie en behandeling kan jy weer speel. Maar harsingskudding is iets anders…"

De Villiers het in 2011 sy debuut vir Maties gemaak. Ná ses seisoene wéét hy wat hy die meeste gaan mis.

"Die kultuur, die gevoel dat jy deel van 'n familie is en die lesse wat ek geleer het. Dit is die hoogtepunte. Ek het baie vriende gemaak en verhoudings gebou."

De Villiers het in sy tyd by Maties onder Chean Roux, Chris Rossouw en Hawies Fourie as afrigters gespeel.

"Maties Rugby is beslis op die regte pad. Hawies se benadering beoog om strukture vir ondersteuning en 'n professionele kultuur daar te stel. Spelers kry ondersteuning sodat hulle kan studeer, gimnasium toe kan gaan, ens. Ons sal binnekort wees waar ons moet wees, soos dié universiteite wat gekoppel is aan 'n unie."

De Villiers se raad aan ander is om aan die begin van elke seisoen vir volledige harsingskuddingtoetse te gaan.

"Vind uit waar jou basislyn is. As jy weer 'n paar stampe kry, gaan weer vir toetse. Wees altyd eerlik met jouself oor die simptome. Jy sal dadelik weet wanneer dit erger word en wanneer jou geheue of konsentrasie agteruitgaan. Moenie jou lewe weggooi omdat jy graag nog 'n jaar of wat wil rugby speel nie."