Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrika-Indië-navorsingsamewerking
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 16/03/2017

Die nuwe Suid-Afrika / Indië wetenskap-en-tegnologie-navorsing-samewerking, wat die Nasionale Navorsingstigting en die Departement van Wetenskap en Tegnologie bekend gestel het, het onlangs 'n navorsingstoelae aan dr Christell van der Vyver van die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) by die Universiteit Stellenbosch en prof Sanjib Panda van die Departement Lewenswetenskap en Bioïnformatika aan die Universiteit van Assam in Silchar, Indië, as die hoofnavorsers geskenk. Die fondse is toegeken vir die projek getiteld Enhancing drought tolerance in crops species using biotechnological approaches (Die verhoging van droogtetoleransie in oeste deur die gebruik van biotegnologiese benaderings).

As deel van hierdie nuwe samewerking het 'n MSc-student van die IPB, Coenrad van Beek, aan die einde van Januarie na Indië vertrek om die Internasionale Simposium oor Plantbiotegnologie vir Oesverbetering by te woon en 'n navorsingsreferaat daar te lewer. Hierdie simposium is gesamentlik deur die Instituut vir Tegnologie, in Guwahati, en die Universiteit van Assam gereël, en dit is bygewoon deur navorsers wat in die veld van plantbiologie spesialiseer. Aspekte soos plant- molekulêre biologie, die belang van landbou, verskillende metaboliese en molekulêre prosesse in plantselle, die vermoë van plante om omgewingstres te hanteer, strestoleransie en plantimmuniteit teen patogene is bespreek. Coenrad het sy werk in die vorm van 'n plakkaat getiteld The SiNACII transcription factor and its use in improving drought tolerance (Die SiNACII transkripsiefaktor en sy rol in verbetering van droogteweerstand), aangebied. Hy het ook die geleentheid gekry om die opvolgende Internasionale Konferensie oor Funksionele Plantbiologie by die Universiteit van Assam by te woon. Na afloop van dié konferensie het hy vir drie weke in prof Panda se laboratorium gewerk, waar hy opleiding ontvang het in verskeie nuwe analitiese tegnieke wat die fisiologiese reaksies van plante op abiotiese stres bepaal.

Op sý beurt, en as deel van die samewerking, het prof Panda Suid-Afrika aan die einde van Februarie besoek. Sy aanbieding getiteld Biotechnology for developing abiotic stress tolerant crops, (Biotegnologie vir die ontwikkeling van oeste wat weerstand teen abiotiese stres bied), wat hy as besoekende professor gelewer het, was deel van die forum wat die Departement Genetika by die Universiteit Stellenbosch gereël het. Prof Panda het uitgebreide kennis in die veld van abiotiese strestoleransie in plantspesies en het meer as 100 referate in internasionale vaktydskrifte oor dié onderwerp gepubliseer; welke referate meer as 3 500 keer aangehaal is. Sy laboratorium beskik oor kundigheid in plant- molekulêre biologie en transgenetiese tegnologie, stresfisiologie en biochemie, asook vergelykende en funksionele genomika, wat volgende-generasie-volgordebepaling gebruik. Die laboratorium het 'n aantal projekte in hierdie velde hanteer, sowel nasionaal as internasionaal.

Die uitruil van studente tussen die laboratoriums van dr Van der Vyver en prof Panda sal in die toekoms aangemoedig en bevorder word. Studente sal in verskeie gepaste molekulêre tegnieke opgelei word en die geleentheid kry om by medewetenskaplikes in hierdie laboratoriums te leer. Die projek se twee hoofnavorsers beplan ook om mekaar se laboratoriums gereeld te besoek, idees in die veld van abiotiese stres uit te ruil, en kennis op te bou oor hoe om oesweerstand teen hierdie soort stres te verbeter. 

article photo.png