Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vrouestudente takel geslagsgeweld op kampus
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 09/03/2017

Honderde studente van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Internasionale Vrouedag gister (Woensdag 8 Maart) die strate aangepak as deel van die Start Letting Us Talk (Slut)–optog. Dié inisatief wil groter bewustheid romdom verkragtingskultuur en geslagsdiskriminasie op kampus skep.

"Ons word elke dag oorval deur beelde van hiper-geseksualiseerde vroue, dit dra by tot die normalisering van die objektifisering van vroue," het die nuutverkose SR-voorsitter, Nomzamo Ntombela, gesê. "Die media en samelewing is nie bemagtigend teenoor vroue nie. Dit stuur die boodskap dat vrouens mooi moet wees, nie sterk nie. Dit is geweldig skadelik vir ons samelewing in die algemeen. Ons moet ook besef dat rasse-ongelykheid en geslagsongelykheid dikwels verwant is. Verkragtingskultuur bestaan op ons kampusse – ons moet daaroor begin praat."

Die optog, wat grootliks uit vrouestudente bestaan het, het in Reyneveldstraat begin en langs Victoriastraat en Merrimanlaan beweeg tot op die Rooiplein waar die groep vergader het vir 'n bespreking. Baie vroue het plakkate gedra met boodskappe soos "Stop silencing us" en "Still not asking for it".

Die Slut-optog vorm deel van deurlopende inisiatiewe op kampus wat geslagsgelykheid-kwessies aanpak en daarop gemik is om verkragtingskultuur uit te wis.

Die US het laasjaar 'n taakspan oor verkragtingskultuur saamgestel, gelei deur dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake. Vir meer inligting, kliek hier.