Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorgraadse navorsingskripsie presteer by kongres
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 08/03/2017

​ʼn Oudstudent van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het reuse- sukses behaal met die voorgraadse navorsingsverhandeling wat hy as finalejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch geskryf het.

Dr Iain Walker, tans ʼn geneesheer by die Kimberley-hospitaal in die Noord-Kaap, het as MB,ChB-student ʼn navorsingsprojek onderneem wat aan hom die hoogste eer besorg het by die jaarlikse kongres van die Vereniging van Neurochirurge van Suid-Afrika (SNSA). Dit is ook vir publikasie in ʼn toonaanewende internasionale joernaal gekies.

Sy navorsing, wat die impak van tegnologiese veranderinge in die neurotrauma-omgewing geassesseer het, is as een van die topdrie navorsingslesings by die SNSA-kongres van 2015 aangewys. Die navorsingsartikel, wat gespruit het uit die studie met die titel "'n Tweesnydende swaard: Die effek van tegnologiese vooruitgang op die bestuur van neurotrauma-pasiënte", is in Augustus 2016 in die British Journal of Neurosurgery gepubliseer.

"Dit was ʼn vooruitskouende studie waarin ondersoek ingestel is of nuwe tegnologie in die neurotrauma-omgewing werklik sorg verbeter. Huidige data is vergelyk met data van 2007, voordat ECM (Enterprise-inhoudsbestuur), PACS (foto-argief- en kommunikasiestelsel) of nuwe gerekenariseerde tomografieskandeerders gebruik is. Die resultate van die studie werp lig op die gevare van die verwydering van menslike besluitneming en direkte kommunikasie uit behandeling, byvoorbeeld wanneer besprekings vir noodskanderings gedoen word," sê prof Ian Vlok, Hoof van die FGGW se Afdeling Neurochirurgie en toesighouer oor Walker se navorsingsverhandeling.

"Deur ʼn weldeurdagte onderwerp te bestudeer het hy daarin geslaag om lewens te red deur onopvallende swakhede in die huidige neurotrauma-stelsel te identifiseer wat veronderstel was om deur tegnologie verbeter te word, maar nie is nie," sê Vlok.

Volgens Walker voel hy "ongelooflik bevoorreg" om deel van die studie te kon wees. "Ons het nie net die doelwit van ons navorsing bereik nie, maar ek is ook die geleentheid gegun om saam met twee vooraanstaande chirurge te werk, professor Ian Vlok en dr Ameya Kamat, 'n kliniese assistant in die afdeling," sê hy.

"Dit was 'n besonder bevredigende ervaring aangesien ek kon leer van my mentors se breë reeks vaardighede en uiteenlopende ondervinding, asook hulle nederigheid en hulle opregte behoefte om ander te help en op te lei," sê Walker.

"Die feit dat die navorsing goed ontvang is deur die mediese gemeenskap was 'n groot eer, maar om te weet dat ons maande se harde werk resultate opgelewer het wat beter uitkomste vir pasiënte en hulle families kan hê, is werklik spesiaal."